Quantcast
Channel: Nuus | Maroela Media
Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621

Ma glo deur seun vermoor: ‘Sy was ontsettend lief vir hom’

$
0
0
Annetjie Stassen.

Annetjie Stassen.

Annetjie Stassen (78), wie se liggaam Sondag gevind is nadat sy verlede week as vermis aangemeld is, sal onthou word as ʼn liefdevolle, Christelike vrou wat “ontsettend lief” was vir haar 43-jarige seun, haar enigste kind wat saam met sy vriendin van haar moord verdink word.

Stassen se jare lange vriendin, Synthia van Aardt, het Dinsdag aan Maroela Media gesê sy was geweldig geskok toe sy die nuus hoor dat Stassen vermoor is.

“Ons ken Annetjie en haar oorlede man, Gideon, sedert 1979. Gideon is so nege of tien jaar gelede oorlede,” het Van Aardt gesê. Sy het gesê dinge in Stassen se huishouding het ná Gideon se dood begin versleg.

Sy verduidelik dat Stassen se seun glo sy werk as ingenieur gelos het en sowat drie jaar gelede saam met sy 31-jarige vriendin in Stassen se huis ingetrek het. Hulle al drie was hoofsaaklik afhanklik van Stassen se pensioen.

“Dit is nie lekker om oningeligte mense se kommentaar op berigte oor haar moord te lees nie. Mense wat beweer dat sy op haar seun ‘geteer’ het, moet eerder nie praat as hulle nie die werklike omstandighede ken nie. Annetjie het nie ander kinders gehad nie. Sy was ontsettend lief vir hom en het haar deure vir hulle oopgemaak. Daar was wel soms drama en sy sou hierheen gevlug het as dit te rof gegaan het.”

Sy het verslae gesê sy weet nie wat onlangs in die huishouding gebeur het of wat tot die tragedie gelei het nie. “Ons het verlede Maandag die laaste keer van haar gehoor toe sy teruggery het huis toe nadat sy by goeie vriende in Pretoria gaan kuier het. Toe ons teen Donderdag steeds niks van haar gehoor het nie, het ons haar as vermis by die polisie gaan aangee.”

Kapt. Jethro Mtshali, woordvoerder van die Kempton Park-polisie, het Maandag aan Maroela Media gesê die polisie het die ondersoek Donderdag by haar huis begin. Die seun het beweer dat hy nie weet waar sy ma is nie en dat hy haar Woensdag vir die laaste keer gesien het toe ʼn motor haar kom oplaai het, maar hy het nooit sy ma as vermis aangemeld nie. Stassen was ʼn diabeet en het nie haar medikasie by haar gehad nie.

Maroela Media het intussen van ʼn betroubare bron verneem dat die paartjie glo erg bedwelmd voorgekom het toe hulle Donderdag ondervra is.

Ná ʼn intensiewe ondersoek en ondervraging van die paartjie het hulle Vrydag onder druk geknak. Die vermistepersone-saak het ʼn moordsaak geword nadat hulle glo aan die polisie erken het hulle het haar doodgeslaan. Die seun en sy vriendin is dadelik in hegtenis geneem.

“Die verdagtes kon nie vir die polisie sê waar die vrou se liggaam gestort is nie en het gesê hulle kan nie onthou nie. Albei het gedurende aanhouding en ondervraging verskeie plekke genoem, waaronder ʼn dam in Mpumalanga, Marble Hall asook Bronkhorstspruit.”

Die deurbraak is Sondag gemaak toe ʼn groep vroue, wat ná ʼn kerkdiens teruggestap het huis toe, op haar liggaam in ʼn veld in Bronkhorstspruit afgekom het. Haar liggaam is deur haar vriende uitgeken.

Van Aardt beskryf haar vriendin as ʼn liefdevolle, saggeaarde en Christelike mens wat “op haar plek” was. “Sy was baie betrokke in haar gemeente en by die Vrouelandbou-unie (VLU) en mense het baie van haar gehou. Sy was ook baie lief vir en trots op haar kleindogter. Laasgenoemde woon in Kaapstad by haar ma en is ʼn uitblinker op skool. Haar kleindogter het in Mei 15 jaar oud geword.”

Stassen se suster is ook oorlede en haar susterskind in Pretoria hanteer onder meer haar begrafnisreëlings. “As alles volgens plan verloop, sal sy Dinsdag in haar man se graf in Kempton Park te ruste gelê word,” het Van Aardt gesê.

Mtshali het Dinsdag aan Maroela Media gesê die seun en sy vriendin het Maandag vlugtig in die Kempton Park-streekhof verskyn. “Die saak is tot Woensdag uitgestel vir die verdagtes om regsverteenwoordiging te kry. Hul name sal eers bekend gemaak word nadat die saak Woensdag voorgekom het.”


Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!