November is nog nie verby nie, maar ʼn rekordgetal van 180 000 vlugtelinge het reeds in Duitsland opgedaag.
Die winter is hier, maar dit het die stroom vlugtelinge nie verminder nie. Inteendeel, dit het vermeerder en die Duitse polisie het reeds meer as 180 000 onwettige reisende mense getel. Bloot die afgelope naweek is 14 482 getel. Nogtans beklemtoon die Duitse polisie die feit dat hulle beslis nie alle vlugtelinge kan tel nie, want baie beweeg oor die grense sonder om getel of geregistreer te word.
Die “Zentralrad der Juden” wat die Joodse gemeenskap in Duitsland verteenwoordig, dring aan dat ’n getal vasgestel word van hoeveel immigrante uiteindelik in Duitsland toegelaat sal word. Die Duitse kanselier Angela Merkel het dit egter Vrydag tydens die CSU-partydag duidelik gestel dat geen perk op ʼn bepaalde getal toelaatbare mense vasgestel sal word nie.