
Pres. Jacob Zuma. Foto: GovernmentZA/Flickr
“Ons kan nie die ware eenheid van die alliansie bereik as ons nie verstaan waar dit vandaan kom nie,” het Zuma aan afgevaardigdes in Midrand gesê. Hy het gesê die alliansie is soos ʼn spies en ʼn skild en dat die een gebruik word om te veg en die ander om te verdedig.
“Die twee hoort saam, jy kan nie net een hê nie. As jy net die spies sonder die skild het, is jy in die moeilikheid.” Zuma het gesê die alliansie is vandag steeds relevant en het mekaar nodig aangesien die aanslag teen die werkersklas groot is.
“Die ANC bly ter ondersteuning van werkers. Die ANC het geveg om hierdie land te bevry,” het Zuma gesê. Hy het ʼn beroep op werkers gedoen om vakbondwerk van politieke werk te skei. “Jy kan albei doen, maar skei dit.”
Zuma het gesê Cosatu was nog nooit ʼn politieke party nie maar ʼn vakverbond. “Werkers het ʼn goed gefokusde Cosatu nodig.” Hy het ʼn beroep op al Cosatu se affiliasies gedoen om saam te werk ten einde ʼn verenigde federasie te bou en nie toe te laat dat hul vyande hulle verdeel nie.