
Polisiebeamptes en soldate patrolleer die strate van Brussel (Sondag, 21 November 2015) Foto: STEPHANIE LECOCQ / EPA
Die vlak van bedreiging in Brussel, België bly hoog terwyl die soektog na ʼn verdagte, wat sedert die aanvalle op 13 November in Frankryk voortvlugtig is, voortduur.
België se nasionale krisissentrum het Saterdag die gevaar in die gebied na vlak 4 verhoog, wat dui op ʼn “ernstige en onmiddellike bedreiging”. Die res van die land is op vlak 3.
Ondergrondse treine bly gesluit en beamptes het voorgestel dat sportkompetisies en alle aktiwiteite in openbare geboue gekanselleer moet word. Winkel- en kommersiële sentra is ook gesluit.
Belgiese beamptes het gesê die maatreëls word aanbeveel weens die ekstra sekuriteit wat dit sou vereis.
Die land se streeksveiligheidsraad sal na verwagting Sondagmiddag vergader om enige nuwe maatreëls in te stel indien nodig.
Die soektog na Saleh Abdeslam duur voort. Hy is ʼn verdagte in die aanval op Parys verlede week en het vermoedelik na België gevlug ná die terreuraanval. Sy broer, Mohamed, het Sondag ʼn beroep op Saleh gedoen om homself aan die owerhede oor te gee. “Ek sal hom eerder in die tronk wil sien as in ʼn begraafplaas,” het hy aan RTBF-televisie gesê.
Saleh se ouer broer, Brahim, het homself in Parys opgeblaas.
Jan Jambon, minister van binnelandse sake, het gesê die bedreiging in Brussel hou nie net met Abdeslam verband nie. “Dit is ʼn bedreiging wat groter is as net een mens,” het hy aan die uitsaaier VRT gesê.
ʼn Telefoon-hulplyn wat ingestel is om inligting te verskaf aan besorgde inwoners oor die vlak van bedreiging, het Saterdag ongeveer 400 oproepe per uur ontvang.
Intussen het ʼn woordvoerder vir Brussel se openbare vervoer, STIB, aan die Le Soir-koerant gesê selfs al word ʼn besluit Sondagmiddag geneem om die ondergrondse treindienste te hervat, kan dit nie “met die druk van ʼn knoppie” plaasvind nie – dit dui daarop dat openbare vervoer op die vroegste eers Maandagoggend weer beskikbaar sal wees.