
Argieffoto: Wikimedia
Die departement van landbou en landelike ontwikkeling in KwaZulu-Natal is besig om ʼn R114 miljoen te bewillig vir boere wat deur die droogte geteister word.
LUR Cyril Xaba het gesê die hulplyn is een van verskeie stappe wat die departement sal doen om boere by te staan. Volgens hom het die departement ʼn geruime tyd gelede begin om binne sy eie begroting geld beskikbaar te maak vir die boere. Aanvanklik is ʼn bedrag van R24 miljoen opsy gesit.
Die departement se bydrae het verlede week ʼn hupstoot gekry tot Senzweni Zokwana, minister van landbou, bosbou en visserye, ingestem het dat ʼn gedeelte van die voorwaardelike Ilima/Letsema-toelaes eerder vir droogteverligting aangewend kan word. Die provinsiale departement is versoek om ʼn gewysigde sakeplan teen 13 November in te dien en ʼn bedrag van R36 miljoen is by die hulplyn bygevoeg.
Zokwana het gesê die bydrae is vir bystand aan klein boere. Dit moet aangewend word vir voer vir vee, water vir voedselvervaardiging en om water aan vee te verskaf.
Die provinsiale departement se bydrae sal vervaardigingsinsette vir alle boere subsidieer, insluitend boere binne die kommersiële bedryf.
Die subsidie sal op ʼn glyskaal aangebied word en daar sal ʼn beperking op die bedrag geplaas word. Klein boere sal 100% bystand ontvang. Daar is ʼn 80% subsidie vir medium grootte plase en 20% vir groot kommersiële bedrywighede. Die subsidie is vir voer, multivitamiene en dip. Dit sal ook aangewend word vir waterversamelingstoestelle soos jojo-tenks, trôe en pype.
Die oorblywende R44 miljoen van die hulplyn sal gebruik word om 62 boorgate in die provinsie te rehabiliteer waar hulpbronne opgedroog het en om 75 damme te skep.
Ander stappe wat gedoen word om droogtegeteisterde boere te help is dat staatsgrond vir weiding beskikbaar gemaak word.