Quantcast
Channel: Nuus | Maroela Media
Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621

Saak teen punte-vakansieklubs duur voort

$
0
0
Argieffoto

Argieffoto

Bewerings van sommige vakansieklubs dat die Nasionale Verbruikerskommissie (NVK) sake teen hulle onvoorwaardelik teruggetrek het, is van alle waarheid ontbloot, het die VF Plus gesê.

“Die sake sal voortgaan sodra sekere tegniese probleme uitgestryk is,” het Anton Alberts, woordvoerder van die party, gesê.

Alberts het gesê die NVK het nou in ʼn skrywe oor die saak in die besonder verwys na die Univision Holiday Club en gesê die saak is voorlopig teruggetrek weens ‘tegniese’ haakplekke, maar dat verskeie regsopsies tans oorweeg word om die saak tot ‘voleinding te voer’ voor die Nasionale Verbruikerstribunaal (NVT). Dieselfde geld die Club Leisure Holiday Group.

Die verklaring van die NVK lui onder meer: ‘Die terugtrek van die saak op tegniese gronde moet nie gesien word as ʼn goedkeuring van die betrokke vakansieklubs se optrede nie. Die NVK het ʼn sterk saak teen die maatskappye.”

Die NVK meld voorts hy besef dat baie verbruikers deur die aangeleentheid geraak word, en juis daarom wil hy seker maak die saak word suksesvol afgehandel.

Die NVK het Univision ook skerp oor die vingers geraps en gesê hy neem ‘met kommer’ kennis van dié maatskappy se ‘uitgeslape reaksie teenoor die media en verbruikers’ wat die indruk wil skep dat die saak nie meer voortgaan nie.

Alberts het hierby aangesluit en gesê die blatante leuens wat die klubs versprei dat die saak laat vaar is of nie meer geldig is nie, is ‘skreiend’. “Dié bewerings is nou van alle waarheid gestroop en die saak by die NVT sal voortgaan. Indien die Kommissie (NVK) nie sou wou voortgaan met die saak nie, sou die VF Plus die stryd self op ʼn ander wyse voortgesit het,” het hy bygevoeg. “Gelukkig is dit nie die geval nie, en die VF Plus loof die NVK oor hul bereidwilligheid om die saak in die belang van alle verbruikers tot voleinding te bring.”

Hierdie ondersoek van die vakansieklub-bedryf volg op ʼn klag wat Alberts enkele jare gelede namens die VF Plus by die parlementêre portefeuljekomitee oor handel en nywerheid en die Nasionale Verbruikerskommissie (NVK) aanhangig gemaak het.

Die klagte is ingedien nadat die party verskeie bewerings van ongerymdhede en onetiese optrede in die bedryf ontvang het. Duisende ontevrede klublede van regoor die land het by die VF Plus aangeklop om hulp, en al hierdie klagte het deel van die ondersoek geword.

Die NVK het ʼn diepte-ondersoek gedoen na onder meer die stand van die puntestelsel in die vakansieklub-bedryf, en groot ongerymdhede is oopgevlek. Die volgende is tydens die ondersoek bevind:

a. die ewigdurende aard van vakansieklubkontrakte is onwettig is en lede moet weens dié bepaling kan terugtree uit die kontrak;
b. die puntestelsel, in teenstelling met stelsels geskoei op tyddeel en deeltitelbasis wat albei deur wetgewing gereguleer word, is ʼn onwettige skema ingevolge die Wet op Verbruikersbeskerming.

Die NVK het teen dié agtergrond twee aansoeke gebring by die Verbruikerstribunaal (VBT) teen twee groot klubgroepe en versoek die volgende:

a. dat die puntestelsel tot ʼn onwettige skema ingevolge die Wet op Verbruikersbeskerming verklaar moet word met die gevolg dat alle sodanige kontrakte ongeldig sal wees;
b. indien die eersgenoemde versoek nie slaag nie, moet kontrakte met ewigdurende klousules as onwettig verklaar word.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621