
Die helikopterwrak wat in die gletser vasgeval het Foto: Nieu-Seeland-polisie
Sewe mense is Saterdag dood toe ʼn helikopter op ʼn gletser in Nieu-Seeland neergestort het.
Volgens plaaslike media het die polisie gesê ʼn reddingspan is uit die lug na die ongelukstoneel afgesak en gevind dat niemand die ongeluk oorleef het nie.
Die New Zealand Herald berig die ses passasiers was buitelandse toeriste, maar geen verdere inligting is beskikbaar nie.
ʼn Foto deur die polisie se soekspan wys die wrak het in ʼn skeur op die Fox-gletser vasgeval.
Volgens beamptes kan gure weer en swak vliegtoestande die reddingspoging om die oorskot uit te haal, bemoeilik.
Die Fox-gletser aan die weskus van die suidelike eiland is ʼn gewilde toeristebestemming, veral in die somer.