Quantcast
Channel: Nuus | Maroela Media
Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621

Die pad graf toe vir Afrikaanse koerante lyk geteer

$
0
0
Foto: Pixabay.com

Foto: Pixabay.com

Org Potgieter

Die skrif is aan die muur vir die gedrukte media in Suid-Afrika. Die Engelse koerante het dalk nog die kapitaal en die wil om voort te steier, maar dit lyk maar donkernag vir die vier Afrikaanse koerante. Die vraag is nou watter een eerste deur die direksie van Naspers gesluit gaan word.

Van ʼn hoogtepunt in die jare 70 – toe daar vyf Afrikaanse koerante aan die Rand was – is daar vandag net Beeld, en sy sirkulasie val jaarliks soos ʼn klip. Volgens die jongste ABC-sirkulasiesyfers (die bedryf se bybel) verkoop Beeld nou gemiddeld 48 647 koerante op weekdae. Dit is gemiddeld 11 000 minder per dag as ʼn jaar gelede en 52% minder as ʼn dekade gelede, toe daar meer as 102 000 kopers per dag was.

Met die ander Naspers-titels gaan dit nie beter nie. Die Burger (Wes en Oos, 52 973) is 52% laer as in 2005. Volksblad – die land se oudste Afrikaanse dagblad (gestig in 1904) is die een wat die grootste gevaar loop om gesluit te word. Hy verkoop maar 17 000 eksemplare, 40% minder as ʼn dekade gelede.

Dit gaan ook nie veel beter in die Engelse mark nie. Die magtige Sunday Times het die afgelope vyf jaar 162 000 kopers ingeboet en sy sirkulasie is op ʼn allerlaagtepunt van 338 000 verkope.

In die Wes-Kaap, waar ʼn kwaai stryd tussen die regerende DA en die ANC heers, oorleef die Cape Argus en die Cape Times (albei 30 000) danksy die kapitaal van die Sekonjala-groep van Iqbal Survé. Dit wil voorkom of die eens gerespekteerde Cape Times deesdae net ʼn propagandamondstuk vir die ANC is. ʼn Dekade of twee gelede was die Cape Argus se sirkulasie net oor die 100 000.

Maar in die Afrikaanse mark is die koerant wat die swaarste ly Rapport. Dié Sondagkoerant het oor die laaste dekade 55% van sy verkope ingeboet en staan nou op 143 000 – 20 000 minder as net ʼn jaar gelede. Tien jaar gelede was die syfer nog 325 000.

Soos iemand al gesê het: “In die ou dae het die dagblaaie Rapport se onthullings opgevolg, deesdae volg Rapport Huisgenoot se berigte op.”

Dit is so anders as in die 1970’s, toe die nuutgestigte Sondagkoerant Die Beeld (wat later Rapport geword het) met Willem Wepener aan die stuur meer as ʼn halfmiljoen lesers – die predikante se afkeur ten spyt! – ná kerk gelok en die magtige Sunday Times met sy groot aantal swart lesers en al verbygesteek het.

Dit was die goue jare van die Afrikaanse koerant, maar het ook met ʼn groot magstryd tussen Naspers en Perskor gepaard gegaan. Voor die koms van die dagblad Beeld in Transvaal het Perskor wal gegooi en naas sy Die Transvaler en Vaderland ook Oggendblad en Hoofstad in die lewe geroep met ʼn aanloklike aanbod aan adverteerders: Koop een advertensie en dit verskyn in vier koerante!

Dit was ʼn uitmergelende stryd tussen die persreuse van die tyd en is uiteindelik deur Naspers gewen nadat Perskor se kullery met sirkulasiesyfers ontbloot is en hy verbied is om oggendkoerante te verkoop.

Daarna het sy twee oorblywende middagkoerante saamgesmelt voordat hulle weens groot verliese gesluit is. Perskor is ook gedwing om The Citizen (wat midde-in die Inligtingskandaal gestaan het omdat hy met regeringsgeld gestig is) aan Caxton-uitgewers te verkoop.

ʼn Mindere maar belangrike rede was dat die Perskor-koerante se joernalistieke vaardighede te wyd versprei moes word en hulle baie aan gehalte ingeboet het.

Die stryd in die naweekmark het ewe fel gewoed. Eers moes Perskor se Landstem en Dagbreek en Sondagnuus saamsmelt teen die kompetisie van die Sondagkoerant Die Beeld. Al drie het later as Rapport saamgesmelt en die Argus-groep se Sondagstem moes sluit.

Die groot rede vir die agteruitgang van die gedrukte koerant – wêreldwyd moes talle ikoniese publikasies al sluit, is natuurlik die koms van die internet en sy versnelling in die nuwe millennium.

Wat die Afrikaanse koerant betref is daar ook ander redes. Die direksie van Naspers se besluit dat hy nie koerante om nostalgiese redes gaan subsidieer nie – ondanks die miljarde rande se wins wat hy in China maak – het gelei tot ʼn groot afname in gehalte.

Om te bespaar is daar nou min ervare redaksielede en ʼn yslike omset van goedkoper, maar swak opgeleide joernaliste. Die besnoeiings beteken ook daar is minder redigeerders en min sprake van ondersoekende joernalistiek. Die Burger het nie meer gespesialiseerde joernaliste soos ʼn stadsverslaggewer nie, sy hoofredaksie is van sewe tot drie ingekort en daar is lankal nie meer plattelandse korrespondente nie.

Ironies genoeg vind dieselfde besparings op gehalte weerklank in die gehalte van Naspers se nuuswerf Netwerk24.

Die vermaarde Piet Cillié se reaksie in ʼn jaar toe Die Burger wel ʼn wins getoon het, sê baie: “Gmf! Ons is nie hier om ʼn wins te maak nie. Ons is hier om ʼn goeie produk te lewer.”

As ʼn redakteur dit vandag sê, sal die boontjietellers natuurlik rol van die lag….

Die Afrikaanse koerant voer ook nie meer die stryd vir sy tradisionele lesers nie – anders as in die dae toe hy die politiek van die Konserwatiewe Party en later ook die HNP en die AWB verguis het.

In sy poging om te transformeer is baie lesers vervreem en het Beeld veral weens sy beriggewing en standpuntinname oor die Puk se sogenaamde “Hitler-saluut” groot sirkulasieskade met openlike boikotte gely.

Die Burger het sy eie graf vinniger help grawe met die afskaffing van sy perdeblad en die stigting van die poniekoerant Son, met ʼn omslagprys van R2 en gemik op bruin lesers (sirkulasie 80 000, wat 35 000 minder is as vyf jaar gelede). Vandag – in sy 100ste jaar – is 56% van Die Burger se kopers bruin, wat die koerant ook tot ander benaderings gedwing het.  

Die meer onlangse oordadige voetewassery van Naspers oor sy destydse steun vir apartheid het ook nie goed by sy tradisionele lesers afgegaan nie – veral nie die lesers wat die beleid deels ook in sy tydsgees beoordeel nie.

Naspers se terughoudende rapportering oor die aksies van AfriForum en Solidariteit en die lou standpuntinname oor die verengelsing van die Universiteit Stellenbosch dra by om sy lesers verder te vervreem.

Die Afrikaanse koerant het sy stem en die steun van baie voormalige lesers verloor, nie net weens die internet nie.

Redakteurs het gekom en gegaan, in die meeste gevalle van swak tot swakker. Die dae van die Piet Cillié’s, Willem Wepeners en Schalk Pienaars en groot leserstalle sal nie weer aanbreek nie. Die Afrikaanse koerante se grootste verkope is in die groep 50 jaar en ouer (40%) en daal tot so laag as 10% (Die Burger) vir die groep 15-24 jaar.

  • Maroela Media (gestig in 2011) is vandag die grootste gratis Afrikaanse portaal met 638 000 unieke besoekers (Bron: Effective Measure, Oktober 2015). Netwerk24, waar jy R99 per maand betaal, het 1 500 000. Maroela Media word gevolg deur Huisgenoot (604 000), Son (278 000) en Sarie (201 000).

Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621