
Universiteit Stellenbosch Foto: Cair.za.net
Verskeie oudstudente aan die Universiteit van Stellenbosch (US) het vandag, in samewerking met die vakbond Solidariteit, ʼn referendum oor die voorgestelde wysiging aan die US se taalbeleid van stapel gestuur. Studente, oudstudente en belanghebbendes word aangemoedig om hulle stem voor die raadsvergadering van 30 November te laat hoor.
Na druk uit verskeie oorde het die uitvoerende komitee van die US se Raad ’n mosie aanvaar waarvolgens Afrikaans se posisie nie gaan verswak nie. Dit het gevolg nadat die rektor, professor Wim de Villiers, aangekondig het dat Engels die verstektaal by die US gaan word.
Volgens dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, is dit nou noodsaaklik dat studente, oud-studente en die Afrikaanse gemeenskap se stem gehoor word. “Prof. de Villiers beweer dat dit uit gesprekke met studente-organisasies, insluitend Open Stellenbosch, geblyk het dat Matie-studente Engels as die universiteit se amptelike voertaal steun. Randdrukgroepe soos Open Stellenbosch, wat slegs ʼn paar honderd ondersteuners het, kan nie namens duisende Afrikaanssprekende studente praat nie,” het hy gesê.
Solidariteit het voorts aangedui dat die mosie wat pas deur die universiteit se uitvoerende komitee (UK) aanvaar is, ʼn positiewe tussenstap is. “Dit is ʼn belangrike veldslag, maar die groot oorlog lê nog voor. Die besluit van die uitvoerende komitee volg op druk uit verskeie oorde. Dit bevestig egter ook hoekom dit noodsaaklik is om druk te verhoog,” het hy bygevoeg.
Die referendum, waarvan die uitslae aan die Universiteitsraad voorgelê sal word om tydens die vergadering van 30 November te bespreek, sal die volgende twee vrae daarstel:
1. Moet Afrikaans by die Universiteit van Stellenbosch behou en uitgebou word?
2. Vertrou jy die huidige bestuur van die Universiteit van Stellenbosch om Afrikaans te beskerm?
Klik hier om aan die referendum deel te neem.
Lees alle vorige berigte oor die Universiteit Stellenbosch op Maroela Media.