
Argieffoto.
Gerugte doen weer die rondte op SMS’e en sosiale media dat kinders by speelareas van Spur-restaurante ontvoer word. Die restaurantgroep het mense weer gerusgestel dat dié ‘waarskuwing’ net bog is.
Die jongste “waarskuwing” lees: “Die GPF het berig dat pogings plaasvind om kinders by Spur-restaurante se speelareas te ontvoer. Kelners word eintlik betaal om klante se aandag af te lei en die kinders te ontvoer terwyl die ouers by die tafels sit. Moet asseblief nie kinders in enige stadium sonder toesig laat nie. Dit wil voorkom of ontvoerings toeneem met verskeie voorvalle wat in die Pretoria-omgewing aangemeld is. Wees asseblief waaksaam.
“N702[sic] het ʼn nuusstorie gedoen oor ʼn sindikaat wat in verskeie winkelsentrums landwyd bedrywig is en kinders ontvoer. Ouers word gewaarsku om hul kinders te alle tye by hulle te hou. Speelareas vir kinders is die maklikste plekke om kinders te gryp. Met die vakansie op hande waarsku die polisie dat ouers ekstra waaksaam moet wees as hulle gaan inkopies doen.”
Die restaurantgroep het in ʼn verklaring gesê die gerugte is vals.
“Ons is bewus dat valse gerugte weer op sosiale media versprei word oor kinders wat ontvoer word. Ons wil mense verseker dat die gerugte heeltemal onwaar, ongegrond en sensasioneel is. Daar was nog nie ʼn ontvoering of ʼn gepoogde ontvoering by ʼn Spur-restaurant nie,” lui die verklaring.
“Dié ondeunde ‘waarskuwings’ het twee jaar gelede begin kopuitsteek. Die saak is baie ernstig opgeneem en twee maatskappye wat spesialiseer in digitale speurwerk, is aangestel om die oorsprong daarvan te ondersoek. Die ondersoekers het vasgestel dit spruit uit verskeie vervalste sosiale media profiele.
“Geen klante het nog oor ʼn ontvoering gekla nie en geen voorvalle is by die polisie aangemeld nie.”
Die restaurantgroep het mense verseker dat kinders se veiligheid ʼn hoë prioriteit vir hulle is en daarom is kameras en oppassers by alle speelareas om die kinders se veiligheid te verseker.
Die groep het ʼn beroep op mense gedoen om die geldigheid of bron van ʼn boodskap te bepaal, voordat waarskuwings gedeel word. Hulle het mense ook versoek om nie dié ‘waarskuwing’ rond te stuur nie.
In Maart verlede jaar moes die groep ook soortgelyke bewerings ontken. Lees meer hier.