
Skermskoot uit die video wat wys hoe Mido Macia in Februarie 2013 agter die polisievangwa gesleep is
Een van die nege voormalige polisiebeampte wat beskuldig is van die moord op die Mosambiekse taxibestuurder Mido Macia, is Dinsdag in die Pretoriase hooggeregshof vrygespreek.
Matome Ramatlou het as ʼn vry man by die hof uitgestap nadat regter Bert Bam gesê het daar is nie genoeg bewyse wat hom met die moord verbind nie. “Jy kan gaan,” het Bam aan Ramatlou gesê, wat dadelik opgestaan het en in die openbare galery gaan sit het.
ʼn Vorige staatsgetuie, polisiebeampte Mpumzi Ngamlana, het aan die hof gesê hy het ʼn fout gemaak toe hy Ramatlou (beskuldigde nommer 9) geïmpliseer het.
Agt voormalige beamptes, Bongamusa Mdluli, Meshack Malele, Thamsanqa Ngema, Percy Mnisi, Sipho Ngobeni, Lungisa Gwababa, Bongani Kolisi en Linda Sololo staan tereg op aanklag van moord. Hulle is almal vrygelaat op borgtog. Hulle is ná ʼn tugverhoor uit die SAPD ontslaan.
Macia is in Februarie 2013 in die Ekurhuleni-polisiestasie se aanhoudingselle dood aangetref ná ʼn onderonsie met polisiebeamptes. Die voorval het internasionaal opslae gemaak en tot verskeie betogings teen polisiegeweld gelei.
Lees alle vorige berigte oor Mido Macia op Maroela Media.