
‘n Skermskoot van die voorval.
Twee 20-jarige studente, Angelique Botes en Jeanette Preis, asook ʼn “barmhartige Samaritaan” het Dinsdag in die Kempton Park-landdroshof verskyn nadat hulle helder oordag in hegtenis geneem is tydens ʼn onderonsie met die Ekurhuleni-metropolisie.
ʼn Familiewoordvoerder wat medianavrae namens die Preis-gesin hanteer, het Dinsdag aan Maroela Media gesê die twee vriendinne is Maandag omstreeks 10:00 in Kempton Park van die pad afgetrek omdat hulle glo 110 km/h in ʼn 80 km/h-sone gery het. “Ons is nie seker wat presies alles daarna gebeur het nie, en wil nie te veel uitbrei voordat daar behoorlik ondersoek ingestel is nie. Gebeure het geëskaleer en Angelique en Jeanette is in hegtenis geneem,” het die woordvoerder gesê.
Intussen het Lucky Meyer, ʼn motoris, die onderonsie tussen die metropolisiebeamptes en die vriendinne gesien en is hy glo weens dwarsboming van die gereg in hegtenis geneem nadat hy ʼn video van die voorval geneem het.
Al drie mense is daarna na die Kempton Park-polisiestasie geneem.
ʼn Joernalis van die gemeenskapkoerant Kempton Express was by die polisiestasie waar Preis se ma, wat intussen ʼn oproep van haar angsbevange dogter gekry het om te sê sy is in hegtenis geneem, gewag het.
Jeanette het begin huil toe sy haar ma, wie se naam ook Jeanette is, by die polisiestasie gesien het en gesê ʼn beampte het ʼn pistool teen haar kop gehou. Jeanette sr. is glo daarna tydens nog ʼn onderonsie deur ʼn vroue-EMPD-beampte geklap.
Die joernalis, Alicia Loots, wou die onderonsie met haar kamera afneem, maar haar kamera is glo afgeneem en toegesluit. Dit is egter weer later aan haar terugbesorg.
Sy het Dinsdag aan Maroela Media gesê sy het nie tydens die voorval seergekry nie. Volgens die Preis-gesin se woordvoerder het Jeanette jr. en Jeanette sr. geringe beserings opgedoen.
Die vriendinne en Meyer is tot omstreeks 19:00 by die polisiestasie aangehou waarna hulle vrygelaat is.
“Jeanette is op ʼn waarskuwing vrygelaat, Angelique is op borgtog van R1 000 vrygelaat en mnr. Meyer moes R500 borgtog betaal op voorwaarde dat hy Dinsdag in die hof verskyn.”
Volgens die familiewoordvoerder staan die vriendinne tereg op ʼn spoedoortreding, crimen injuria en gewone aanranding. Net die spoedoortredingsaak was egter Dinsdag op die hofrol en ʼn datum vir ʼn volgende hofverskyning is nog nie bepaal nie.
Die familiewoordvoerder het gesê dat Meyer, wat as ʼn “barmhartige Samaritaan” beskryf is, die grootste onreg in die voorval aangedoen is omdat hy bloot probeer help het.
Hoofsupt. Wilfred Kgasago, woordvoerder van die EMPD, het aan Maroela Media bevestig dat Angelique glo die spoedgrens oorskry het. “As ’n bestuurder die spoedgrens met meer as 30 km/h oorskry, kan die oortreder op grond daarvan in hegtenis geneem word en moet ʼn saak oopgemaak word,” het Kgasago verduidelik.
Hy het gesê ’n voorlopige ondersoek dui daarop dat Jeanette jr. glo nadat hulle afgetrek is, op ʼn boete aangedring het. Sy het glo ʼn regskenner gebel en is glo aangeraai om weg te ry. “Die twee is agtervolg en uiteindelik weer van die pad afgetrek waarna hulle hul glo hulself teen die beamptes verset het en hulle gevloek het. Dit is toe dat die onderonsie ontstaan het,” het hy gesê. “Die voorval by die polisiestasie het gevolg nadat daar weer op die beamptes geskree is en vingers in hul gesigte gedruk is.”
Kgasago het egter gesê die voorval word as ernstig beskou en ʼn volledige interne ondersoek is van stapel gestuur om te bepaal of die beamptes reg opgetree het onder die omstandighede.