
Argieffoto: SAPD/Facebook
ʼn 53-jarige wildboer is Saterdag in die vroeë oggendure op sy wildplaas in die Rooiberg-omgewing, tussen Thabazimbi en Bela-Bela (Warmbad) in Limpopo, vermoor.
Lt.kol. Malesela Ledwaba, provinsiale polisiewoordvoerder, het gesê die boer het geslaap toe ʼn onbekende aantal verdagtes toegang tot sy plaashuis verkry en hom oorweldig en vermoor het.
“Voorlopige ondersoek dui daarop dat die boer verwurg is. ʼn Nadoodse ondersoek sal gedoen word om presies te bepaal hoe hy dood is,” het Ledwaba gesê.
Die verdagtes het met die boer se kluis van die toneel gevlug.
Die Rooiberg-polisie is oor die voorval ingelig en is dadelik na die toneel. ʼn Volskaalse soektog na die verdagtes is van stapel gestuur en ʼn 29-jarige verdagte is in Bela-Bela gearresteer.
“Die gesteelde kluis, met ʼn vuurwapen, ammunisie en kontant is kort daarna in ʼn veld buite die dorp opgespoor.”
Die soektog na die ander verdagtes duur voort.
Die verdagte sal na verwagting binnekort in die Bela-Bela-landroshof verskyn op aanklagte van moord en die besit van vermeende gesteelde eiendom.
Die oorledene se naam is nog nie bekend gemaak nie.