
Die skoolbus waarin die twee meisies dood is. Foto: Netcare 911
Driejarige tweelingsussies het Vrydag gesterf nadat die skoolbus waarin hulle gery het op die N3-snelweg tussen Warden en Harrismith in die Vrystaat aan die brand geslaan het.
Chris Botha, woordvoerder van Netcare 911, het gesê die bus het tussen die twee dorpe gery toe dit skielik aan die brand geslaan het.
“Die bus het van die pad af geswenk en teen ʼn steilte langs die snelweg tot stilstand gekom,” het hy gesê.
Toe paramedici en die brandweer by die toneel opgedaag het, was die bus in ligte laaie en is baie van die kinders langs die bus aangetref. “Twee mense het kritieke beserings opgedoen. Vier mense is ernstig beseer en 17 is gering beseer.”
Die tweeling kon nie dadelik opgespoor word nie, maar is later gevind toe die brand in bedwang gebring en die skoolbus deursoek is.
Die beseerdes is op die toneel behandel en na verskeie hospitale geneem vir verdere behandeling en waarneming.
Die voorval word ondersoek.