Clik here to view.

Foto: http://myciti.org.za/
Die Stad Kaapstad het gesê hulle het van die probleem bewus geraak nadat passasiers op sosiale media daaroor gekla het. Die bestuurder se werkgewer het hom gewaarsku om die praktyk te staak.
Die busmaatskappy TBRT, ʼn MyCiTi voertuigbedryfsmaatskappy, het gesê hulle het die bestuurder gevra om nie vir sy passasiers te bid nie, aangesien daar passasiers met gemengde geloofsoortuigings op die bus is. Volgens die Stad Kaapstad het die bestuurder egter voortgegaan met sy gebede.
Die bestuurder het Dinsdag ʼn geskrewe waarskuwing ontvang, maar het ook hierdie waarskuwing geïgnoreer, wat daartoe gelei het dat hy Donderdag geskors is. Die bestuurder, wie se geloof nie genoem is nie, bedryf roetes van en na Atlantis.
Brett Herron, burgemeesterskomiteelid vir vervoer in Kaapstad, het gesê dit is belangrik dat daar in ag geneem word dat die inwoners van Kaapstad en die besoekers aan die stad almal verskillende geloofsoortuigings het en sommige glad nie gelowig is nie. “Ek doen daarom ʼn beroep vir verdraagsaamheid en respek vir mekaar en ons reg om te kies watter geloof ons wil beoefen en wanneer en hoe ons dit doen,” het hy gesê.