Dit kom nadat ʼn ma die hoof hof toe gesleep het nadat haar seun nie toelating tot die skool gekry het nie.
Vuyokazi Dyani het haar verlede jaar tot die gelykheidshof gewend nadat haar 15-jarige seun se aansoek om toelating tot die skool onsuksesvol was. Dyani het gesê haar seun is afgekeur op grond van sy ras. Sy het ook beweer dat Jannie van der Westhuizen, die skoolhoof, aan haar gesê het dat haar seun na ’n skool in die woonbuurt Kayamandi moet gaan “waar hy hoort”. Van der Westhuizen het die bewering ten sterkste ontken.
Dyani het vroeër die saak na die Wes-Kaapse minister van onderwys geneem om te versoek dat die skool se besluit omgekeer word. Ná ’n ondersoek deur die minister se kantoor is daar bevind dat die toelatingsproses korrek plaasgevind het en Dyani se appèl is van die hand gewys.
Dyani het ook die saak na die Menseregtekommissie (MRK) geneem, maar geen bevinding is nog in die verband gemaak nie.
In ʼn verklaring wat Donderdag deur die skool uitgereik is, het Van der Westhuizen gesê Dyani se seun was een van 504 aansoeke in 2014 waarvan 258 onsuksesvol was. “Paul Roos Gimnasium is ’n inklusiewe skool wat daartoe verbind is om alle Suid-Afrikaners te dien. Die skool kan dit egter net doen binne die raamwerk van wat prakties moontlik is,” het hy gesê.
“Die skool en beheerliggaam het begrip vir elke ouer se wens om hul kind die beste moontlike onderrig te gee. Die skool kan egter nie alle aansoekers akkommodeer nie en die skoolbeheerliggaam het, as een van sy funksies ingevolge die Skolewet, ’n toelatingsbeleid om die proses te bestuur.”
Die gelykheidshof het Donderdag wel beslis dat die meriete van die klag deur hierdie hof aangehoor sal word. Die voorverhoor-samesprekings vir die verhoor vind op 21 Januarie 2016 plaas.