Gengezi Mgidlana, sekretaris van die parlement, het gesê die interdik verhoed lede van Nehawu om deel te neem aan enige onwettige aksies op die perseel van die parlement “op enige manier wat die werk van die komitees en algemene sake van die parlement ontwrig”.
“Ons hoop die lede van Nehawu is wetsgehoorsame burgers wat gehoor sal gee aan die opdrag van die hof,” het Mgidlana gesê. Hy het gesê hy sou later Woensdagaand die voorwaardes van die interdik met Nehawu-verteenwoordigers bespreek.
Polisie moes Woensdag skokgranate gebruik op ʼn groep van honderde betogende personeel in die parlementêre binnehof. Betogers het ook by vergaderings van portefeuljekomitees ingebars en betogingsliedjies gesing wat gelei het tot vier vergaderings wat gestaak moes word.
Mgidlana het gesê die opdrag om die polisie in die parlement in te roep om die betogers uitmekaar te jaag het van speaker Baleka Mbete en Thandi Modise, voorsitter van die nasionale raad van provinsies, gekom.
Woensdagaand sou die tweede agtereenvolgende aand wees dat die parlementêre bestuur met verteenwoordigers van Nehawu vergader om ʼn einde aan die dispuut te bring. “Ons sal voortgaan om met hulle in gesprek te tree,” het Mgidlana gesê.