
Monique die dag nadat sy geval het. Foto: Verskaf
Die ouers van ʼn 8-jarige laerskoolmeisie van Germiston aan die Oos-Rand oorweeg dit sterk om ʼn nuwe skool vir hul dogter te soek nadat sy glo reeds ʼn jaar lank erg deur twee of drie meisies by die skool geboelie word en dit Dinsdag na bewering daartoe gelei het dat sy geval en erg seergekry het.
Die ma van die gr. 2-meisie Monique* het Woensdag aan Maroela Media gesê haar dogter ly aan angsversteuring weens die beweerde voortdurende geboelie by die Colin Mann School.
“Sy loop sedert die laaste termyn van 2014, toe sy in gr. 1 was, deur onder ʼn groep van twee of drie meisies by die skool wat haar boelie. Dit het begin deur die meisies wat gedurig haar middagete afgevat het en haar spot oor haar voorkoms,” het Monique se ma gesê.
Sy het gesê die vermeende boelies het glo twee weke gelede vir die eerste keer handgemeen geraak toe Monique in die maag geslaan en sy winduit was.
“Gister [Dinsdag] het een van hulle haar gepootjie. Sy het geval en haar kop hard teen ʼn betonsloot gestamp. Die val het merke gelaat en haar oog is vandag toegeswel.”
Monique se ouers is omstreeks 12:40 deur die skool in kennis gestel dat sy geval het. Hulle het haar na ʼn dokter geneem wat gesê het dit is nie nodig dat sy in ʼn hospitaal opgeneem word nie, maar dat waarneming nodig sal wees.

Monique kort nadat sy geval het. Foto: Verskaf.
“Monique is vandag terug skool toe, blou oog en al. Sy wil nie agter raak met haar skoolwerk nie en wil ook nie vir die boelies wys dat hulle haar onderkry nie.”
Die ouers was Woensdagoggend vlugtig by die skool en is glo deur die adjunkhoof meegedeel dat Monique na ʼn ander klas geskuif sal word en dat die betrokke meisies nie weer met haar in aanraking mag kom nie.
Marina le Roux, die skoolhoof, het aan Maroela Media gesê sy is bereid om kommentaar te lewer in oorleg met die Gautengse departement van onderwys, maar andersins nie.
Phumla Sekhonyane, woordvoerder van die departement van onderwys, het aan Maroela Media gesê die departement beskou die aantygings in ʼn ernstige lig. “Ons het ʼn navraag oor die aangeleentheid aan die skool gerig en onderneem om volle kommentaar te lewer sodra ons terugvoer kry,” het sy gesê.
* Monique word as ‘n skuilnaam gebruik uit vrees vir verdere viktimisasie.