Volgens ʼn amptelike verklaring wat deur die universiteit uitgereik is, is vyf studente vanoggend in hegtenis geneem. “Daar is gepoog om ʼn gedeelte van die Ruth First-koshuis op die UWK se Bellville-kampus aan die brand te steek. UWK se brand- en mediese beampte het op die brandalarms gereageer wat afgegaan het en is met sy aankoms by die koshuise oorval en erg aangerand deur die betogende groep,” het die universiteit gesê.
“Die beampte is na ʼn hospitaal gehaas vir mediese behandeling. Vyf studente is in hegtenis geneem in verband met die aanranding.”
Studente het sambokke, bakstene en knopkieries gedra en veiligheidspersoneel met klippe bestook. ʼn Vroueveiligheidsbeampte is aangerand en met ʼn mes gedreig. Omstreeks 13:30 het motors by die kampus se hekke uitgestroom terwyl voertuie verbied is om die kampus binne te gaan.
Universiteitsbeamptes het aangedui dat geen eksamens deur die betogings ontwrig is nie, maar studente het gesê dit is nie waar nie. Volgens berigte het ʼn groep studente by die hoofsaal ingebars en die verrigtinge ontwrig.
Een van die personeellede het gesê studente is klaar gespanne omdat dit eksamentyd is en nou moet hulle hul weg deur polisielede met oproer-toerusting vind. Volgens die personeellid het die betogers talle vensters gebreek en het sy gehoor hoe skokgranate afgevuur word.
Konst. Noloyiso Rwexana, woordvoerder van die polisie, het gesê die vyf studente wat in aanhouding is, is tussen die ouderdom van 19 en 25. Hulle is aangekla van aanranding met die doel om ernstig te beseer.


