Kapt. Paul Ramaloko, woordvoerder van die polisie, het gesê die 27-jarige man het na bewering Sondag sy ouers, albei 66 jaar oud, en sy suster se sewejarige seuntjie vermoor. Die polisie is egter eers Maandagaand na die toneel ontbied nadat die verdagte se suster by die huis in Mothutlung in Noordwes opgedaag het.
“Met die polisie se aankoms op die toneel het ons die drie bebloede liggame in die huis aangetref. Die slagoffers is vermoedelik met ʼn handgewig doodgeslaan,” het Ramaloko gesê. “Die verdagte was ook by die huis en besig om te drink. Hy was vermoedelik sedert die moord saam met die liggame van die oorledenes in die huis. Hy is op die toneel in hegtenis geneem.”
Forensiese kenners was Dinsdagmiddag nog op die toneel om die huis vir bewyse te fynkam. Ramaloko het gesê die motief vir die moord is in hierdie stadium nie bekend nie, maar sal deel vorm van die polisie se ondersoek. Die verdagte sal na verwagting Woensdag in die GaRankuwa-landdroshof verskyn.