Die bekende Afrikaanse sanger, Jay, is in ʼn Bloemfonteinse hospitaal opgeneem.
Corné Oosthuizen, Jay se agent, het aan Maroela Media bevestig die sanger is in die hospitaal opgeneem nadat hy Dinsdag van ʼn perd geval het naby Zastron.
“Die buikgordel van die saal het gebreek terwyl die perd vinnig gehardloop het en Jay is van die perd af geslinger. Hy het nie ʼn valhelm gedra nie,” het hy gesê.
Jay se oogbank is gebreek, ʼn ooglid is geskeur en sy niere en ribbes is ook beseer. Hy het reeds steke in onder meer sy knie en enkel gekry en sy ooglid sal Donderdagoggend tydens ʼn operasie geheg word.
“Ons is baie dankbaar hy het nie ernstiger beserings opgedoen nie. Dokters is oortuig daarvan dat hy volkome sal herstel en geen permanente skade sal oorhou ná die ongeluk nie,” het Oosthuizen gesê. “Ons verwag dat hy teen Vrydag ontslaan sal word.”
Oosthuizen het gesê Jay se optrede wat Woensdagaand in Zastron sou plaasvind, is gekanselleer. Hy hoop dat die sanger sy optredes vanaf Saterdag af weer sal kan hervat.