
Foto’s: SAPD
Die polisie in Limpopo het laat Dinsdagmiddag vyf verdagtes aangekeer terwyl hulle vermoedelik op pad was om ʼn gewapende roof uit te voer.
Kapt. Mamphaswa Seabi, polisiewoordvoerder, het gesê beamptes van die Magatle-polisie, suidoos van Mokopane, het inligting ontvang oor ʼn verdagte voertuig wat in die omgewing rondry.
“Die beamptes het met die hulp van die honde- en taktiese reaksie-eenheid reageer en die voertuig opgespoor,” het Seabi gesê. “Die verdagtes is in hegtenis geneem en die polisie het beslag gelê op twee vuurwapens, ammunisie, selfone en ʼn skootrekenaar.”
Seabi het gesê die verdagtes kan reeds verbind word met verskeie voorvalle van gewapende roof by winkels in Zebediela, Tinmyne en Mahwelereng.
Die verdagtes is almal van die Mahwelereng-omgewing en sal binnekort in die hof verskyn.
