
Foto verskaf deur die SAPD
ʼn Pa en seun is Vrydag in Riebeeckstad buite Welkom in die Vrystaat in hegtenis geneem nadat ʼn hidroponiese dagga-laboratorium op hul eiendom ontdek is.
“Die Thabong-polisie en Welkom se honde-eenheid het die oggend omstreeks 09:00 ʼn wenk ontvang oor ʼn dagga-laboratorium in ʼn huis in Riebeeckstad,” het kapt. Stephen Thakeng, woordvoerder van die polisie in die Vrystaat, gesê.
Beamptes is na die huis in Jasonstraat en het toestemming versoek om die perseel te deursoek. “ʼn Hoëgraadse hidroponiese dagga-laboratorium was in die agterkant van die huis. Dagga is in die seun se kamer en onder ʼn boom in die erf geprosesseer.”
Die 52-jarige pa en sy 27-jarige seun is in hegtenis geneem en sal binnekort in die Welkom-landdroshof verskyn op aanklag van die besit, handeldryf en vervaardiging van “hoëgraadse hidroponiese dagga”, het Thakeng bygevoeg.