
Foto: SAPD, Facebook
Dipuo Chipu, ‘n vroulike polisiebeampte, wat van regsverydeling aangekla is, is op borgtog van R5 000 vrygelaat. Die saak teen haar medebeskuldigdes, Titus Mabela, Jason Segole en Puleng Sebetwa, is intussen tot 10 November uitgestel wanneer hulle om borgtog sal aansoek doen.
Dié drie word van moord, sowel as regsverydeling, aangekla. Die hofsaal was gepak met lede van die polisievakbond SAPU wat gesê het hulle is daar om hul kollegas te ondersteun. Hulle het die media daarvan beskuldig dat hulle die polisie negatief uitbeeld. Volgens hulle het die beamptes net hulle werk gedoen.
Die beamptes het hulself Maandagoggend by die Krugersdorp-polisiestasie oorgegee, nadat beeldmateriaal van kringtelevisiekameras wat deur die Sunday Times bekom is, wyd op sosiale media gedeel is.
Die beeldmateriaal wys glo hoe Khulekani Mpanza geskiet word en op die polisiebeamptes losbrand terwyl hy vlug van ʼn rooftoneel. Die polisie skiet terug en Mpanza word gewond en val op die grond neer.
Terwyl hy op die sypaadjie lê tussen ʼn heining en ʼn afleweringsvoertuig, stap ʼn polisiebeampte nader en skop die bloeiende Mpanza. Dan stap die konstabel wat hom glo die eerste keer geskiet het, nader. Hy praat vlugtig met sy kollega, voordat hy sy vuurwapen op Mpanza rig en hom oënskynlik koelbloedig doodskiet.