Die departement het Sondag in ʼn verklaring die nuus bevestig. “Dit is met groot hartseer en swaar harte waarmee ons u in kennis stel van die skielike heengaan van Chumani Nqakula.” Chumani is die seun van die minister van verdediging, Mapisa-Nqakula, en voormalige kabinetminister, Charles Nqakula.
Volgens die departement is Chumani glo deur iemand wat hom geken het in Bezuidenhout Valley in Johannesburg vermoor. Die verdagte is reeds in hegtenis geneem en is in polisie-aanhouding.
“Die ministerie van verdediging en militêre veterane betuig sy innige medelye met minister Mapisa-Nqakula en haar familie,” lui die verklaring. “Mag God haar die vertroosting en vrede gee in hierdie moeilike tyd en mag Chumani se siel in vrede rus.”
Meer besonderhede oor die moord sal mettertyd bekendgemaak word, het die departement gesê.