Die Wes-Kaapse departement van vervoer en openbare werke het Sondag gesê dit kom ná die aankondiging van regulasie 32A van die nasionale padverkeersregulasies in Oktober verlede jaar. Die nasionale departement van vervoer het bevestig dat die regulasie op alle motoriste landwyd van toepassing is.
“Dit beteken dat enige persoon of liggaam (maatskappye en organisasies) verplig sal wees om bewys van volle name, identiteit- of besigheidsnommer en woon- en posadres te voorsien voordat enige registrerende owerheid ʼn motorlisensieskyf of bedryfskaart kan uitreik,” het die Wes-Kaapse departement in ʼn verklaring gesê.
Die nuwe regulasie sal van toepassing wees op verskeie transaksies insluitend die aansoek van ʼn verkeersregistrasienommer en -sertifikaat, die verandering van die besonderhede van die eienaar van ʼn voertuig en die opdatering van nuwe woon- en posadresse van lisensiehouers.
Voertuigvlooteienaars moet ook ʼn bewys vir die betrokke besonderhede verskaf saam met die eerste transaksie of diens op die NaTIS-stelsel waarvoor hulle aansoek doen. “Die departement het duidelike riglyne aan registrerende owerhede en bestuurslisensietoetssentrums deurgegee hoe om die nuwe vereistes toe te pas en duidelik uiteen te sit watter bewyse benodig word alvorens transaksies aanvaar kan word,” het die departement gesê.
Bewys van adres kan gegee word deur middel van ʼn munisipale rekening, telefoonrekening of kleinhandelwinkelrekening nie ouer nie as drie maande. Vir meer besonderhede oor die nuwe regulasies kan die departement se webtuiste besoek word.