
Argieffoto
Die polisie in Clarens in die Vrystaat het ʼn volskaalse soektog van stapel gestuur nadat ʼn instapkluis by die Gladstone-kantoor in Golden Gate op 5 Februarie vanjaar opgeblaas is.
“ʼn Onbekende aantal verdagtes het die aand omstreeks middernag deur ʼn oop venster in die badkamer toegang gekry tot die kantoor,” het lt.kol. Thandi Mbambo, woordvoerder van die polisie, in ʼn verklaring gesê. “Die verdagtes het ʼn onbekende bedrag geld en 20 vuurwapens van verskillende kalibers gesteel voor hulle van die toneel gevlug het.”
Mbambo het gesê ʼn saak van roof en opsetlike saakbeskadiging is op 6 Februarie by Clarens-polisiestasie aanhangig gemaak. “Niemand is nog tot dusver in hegtenis geneem nie. Enigiemand met inligting word versoek om konstabel Zwane van die Georganiseerde Misdaadeenheid by Phuthaditjhaba te kontak by 071 481 2428.”
ʼn Beloning van R50 000 word aangebied vir enigiemand wat die polisie kan bystaan om die oortreders suksesvol te vervolg.