
Argieffoto
ʼn 69-jarige Britse burger, wat in sy land tereg staan op verskeie aanklagte van seksuele misdrywe met minderjariges, het Donderdag in die Randburg-landroshof verskyn waar ʼn aansoek gebring is om hom uit te lewer.
Brig. Vishnu Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, het gesê die pensionaris, wie se naam nie genoem mag word nie omdat sy beweerde misdrywe glo met minderjariges gepleeg is, is Woensdag in Greymont in Johannesburg in hegtenis geneem.
“Die inhegtenisname is deur ons plaaslike Interpol uitgevoer nadat die verdagte deur owerhede in Brittanje gesoek is. Hy staan daar tereg op 12 aanklagte van onsedelike aanranding en seksuele misdrywe met minderjariges,” het Naidoo gesê.
Daar word beweer dat die man die misdrywe tussen 1972 en 1999 gepleeg het, voordat hy na Suid-Afrika gekom het.
Die saak is tot 16 November uitgestel.