
Argieffoto
Werknemers by die Suid-Afrikaanse Poskantoor het nog slegs ‘n gedeelte van hul salarisse ontvang.
Die Congress of the People het Maandag in ʼn verklaring gesê het gesê hy het al op verskeie geleenthede daarop gewys dat die poskantoor in ʼn finansiële verknorsing is, maar daar is nie gehoor gegee daaraan nie.
Die party doen ʼn beroep op staatsamptenare om in eenheid met Poskantoorwerknemers op te tree en slegs die helfte van hul salarisse huis toe te vat. “Dit is nie regverdig dat mense in die regering, die hoofoorsaak van hierdie ineenstorting en ander instansies in die land weens onoordeelkundige kaderontplooiing, normaal met hul lewens voortgaan terwyl Poskantoorwerkers se lewens onderstebo gekeer word nie,” het die party gesê. “Die Zuma-administrasie het deur hul optrede en versuim die ineenstorting van die Poskantoor veroorsaak.”
Die party het bygevoeg die Poskantoor moes vennote uit die privaatsektor inneem. “In ons mening moes 51% van die aandele reeds in die begin van die krisis verkoop word. Nou het die waarde aansienlik gedaal. Die Poskantoor is op sy knieë.”
Khulani Qoma, woordvoerder van die Poskantoor, het gesê werknemers het Vrydag 70% van hul salarisse ontvang en die balans sal op die laaste dag van die maand oorbetaal word.
Werknemers het op 16 Oktober ʼn skrywe van Anthea Seafield, hoof van menslike hulpbronne, en Nichola Dewar, waarnemende hoof finansiële beampte, ontvang waarin die uitvoerende bestuur bevestig dat personeel, weens huidige finansiële beperkings, nie op 25 Oktober hul volle salaris sal ontvang nie.
“Let asseblief daarop dat daar ʼn verdeelde betaling vir die Oktober 2015-salarisse sal plaasvind. Die betaling sal soos volg geskied: 50% op 25 Oktober en die balans op 31 Oktober 2015.” Qoma het bevestig werknemers het op 23 Oktober 70% ontvang, en nie 50% soos aanvanklik aangedui is nie.