Brig. Billy Jones, polisiewoordvoerder, het gesê die mense is sedert die begin van Oktober in hegtenis geneem as deel van die polisie se Operasie Fiela om onwettige aktiwiteite in die Vrystaat hok te slaan. “Hierdie verdagtes is gedurende polisie-klopjagte wat in die vroeë oggendure uitgevoer is, in hegtenis geneem,” het hy gesê.
“Verskeie aanklagte is aanhangig gemaak, wat insluit moord, poging tot moord, huisbraak, sakeroof, aanranding met die doel om ernstig te beseer, dronkbestuur, onwettige besit van ʼn vuurwapen en ongedokumenteerde mense. Daar is ook op verskeie items beslag gelê soos 12 vuurwapens, 201 gevaarlike wapens, 14 gesteelde voertuie, 140 kg dagga en 2 539 nagemaakte items,” het Jones gesê.
Altesaam 1 773 verkeers- en munisipale boetes is ook tydens hierdie klopjagte uitgereik.
“Ons sal voortgaan om kriminele elemente uit ons gemeenskappe te verwyder om te verseker dat ons provinsie die veiligste in die land is,” het lt.genl. Thabethe Mpembe, provinsiale polisiekommissaris, gesê.