Die geregtelike doodsondersoekdokumente na die dood van Ahmed Timol, anti-apartheidsaktivis en politieke leier, sal Dinsdag op die 44ste herdenking van sy dood aan die publiek beskikbaar gestel word.
Die Ahmed Kathrada Foundation (AKF) het Saterdag gesê die dokumente sal tydens ʼn geleentheid by die Johannesburgse Sentrale Polisiestasie oorhandig word, dieselfde gebou waar Timol na bewering na sy dood gespring het.
Timol, ʼn onderwyser en lid van die SA Kommunistiese Party en Umkhonto we Sizwe, is op 27 Oktober 1971 in polisieaanhouding by die destyds berugte John Vorster Plein polisiestasie dood. Alhoewel polisieverklarings beweer het hy is dood nadat hy uit ʼn venster op die tiende verdieping gespring het, het bewyse later aan die lig gekom wat getoon het Timol is erg deur polisiebeamptes gemartel en is waarskynlik in polisie-aanhouding dood, het die AKF gesê.
“Nou, meer as vier dekades later, word ʼn stel geregtelike doodsondersoekdossiere wat deur een van die familie se regsverteenwoordigers, Mia Ahmed Loonat, gehou is, bekendgemaak,” het die organisasie in ʼn verklaring gesê. Die dokumente is intussen deur die Wits Historical Papers Research Archive gedigitaliseer.
Neeshan Balton, direkteur van die AKF, het Loonat bedank vir die skenking van die dokumente aan die organisasie. Hy het gesê die dokumente verskaf waardevolle insig in die die apartheidsadministrasie se hantering van sterftes in polisie-aanhouding.
“Hierdie dokumente het besondere historiese waarde. Hulle vang nie net die polisie se weergawe van Timol se dood vas nie, maar bevat ook verklarings van sy ouers, briewe en selfs afskrifte van die sogenaamde ‘onwettige’ pamflette wat in sy motor gevind is voordat hy in hegtenis geneem is,” het Balton gesê. “Die dokumente herinner ons aan die onmisbare rol wat aktiviste soos Timol en ander wat in polisieaanhouding dood is, gespeel het in ons stryd om vryheid.”