Die bevinding van ʼn onafhanklike forensiese ondersoek ná ʼn rassistiese e-pos wat lyk of dit van ʼn MiWay-personeellid gestuur is, is bekend gemaak.
MiWay het in ʼn verklaring gesê die onafhanklike ondersoek is deur die forensiese ouditeurs Cyanre – The Digital Forensic Lab gedoen.
“Die ondersoek het bevind dat die rassistiese en aanstootlike e-pos wat lyk of dit deur ʼn MiWay-personeellid gestuur is wel vals is,” het René Otto, die uitvoerende hoof van die korttermynversekeraar, gesê.
Otto het gesê MiWay het onmiddellik ʼn ondersoek van stapel gestuur toe ʼn skermskoot van die e-pos op sosiale media verskyn het. In die “e-pos” is daar rassistiese opmerkings en valse beweringe gemaak oor MiWay se eisebestuursbeleid.
“Ons het ʼn volledige verslag van die onafhanklike forensiese ouditeurs ontvang wat onweerlegbaar bewys dat die e-pos vals is en nie van MiWay of ʼn werknemer af gestuur is nie. Die oudit het ook die persoon wat daarvoor verantwoordelik was, geïdentifiseer.”
Danny Myburgh, besturende direkteur van Cyanre, het die bevinding bevestig. “Ná ʼn indiepte-ondersoek kan ons bevestig dat die e-pos deur ʼn eksterne bron gemanipuleer is. Die skermskoot wat op sosiale media versprei is, is gefabriseer.”
Otto het gesê hulle gaan nog nie die verslag aan die publiek openbaar nie. “Ons gaan eers die betrokke kliënt wat vir die plasing verantwoordelik was die kans gee om te reageer. Sodra ons terugvoer van die persoon gekry het, sal ons in ʼn posisie wees om oor die pad vorentoe te besluit.”
MiWay het gesê as trots Suid-Afrikaanse maatskappy neem die maatskappy ʼn stewige standpunt teen enige vorm van rassisme of rassediskriminasie in en die maatskappy is ook deursigtig in al sy handelinge.
Maroela Media het verlede week berig die skermskoot van ʼn skynbare e-pos het onder meer gesê dat 90% van die aansoeke van swart mense vanaf 1 Augustus 2017 van die hand gewys gaan word omdat hulle “maklike teikens is”. Die “e-pos” sê verder dit is ʼn gulde geleentheid om geld te bespaar en die “swart bobbejane” te straf.
Die “e-pos” maak ook melding van ʼn vergadering waartydens bogenoemde besluite geneem is, maar Otto ontken dat daar ooit so ʼn vergadering plaasgevind het en dat daar enigsins sulke besluite geneem is.
MiWay het vinnig gereageer en ʼn dringende ondersoek ingestel nadat ontstoke sosialemediagebruikers dit onder hul aandag gebring het. Die versekeraar het toe al bevestig die skermskoot is vals en hulle vermoed dit is deur ʼn ongelukkige kliënt nagemaak en versprei aangesien dié versekeraar glo ʼn eis van die persoon geweier het.