
Chester Bennington van Linkin Park tydens die iHeartRadio-musiekfees in Las Vegas in 2012. Foto: Reuters
Polisieowerhede van die suide van Kalifornië in die VSA het vandeesweek die noodoproep vrygestel wat die hoofsanger van die rockgroep Linkin Park, Chester Bennington, se bestuurder gemaak het kort nadat hy op 20 Julie sy eie lewe geneem het.
Wetstoepassingsagentskappe het vroeër verlede week bevestig die 41-jarige Bennington het homself in sy huis in Los Angeles gehang. Sy liggaam is kort voor 09:00 in sy huis in Palos Verdes gevind.
In die noodoproep kan gehoor word hoe ʼn vrou histeries huil in die agtergrond terwyl die bestuurder met die nooddienste praat.
Volgens TMZ is dié vrou Bennington se huiswerker, en het sy op sy liggaam afgekom. Sy bestuurder was glo veronderstel om hom later dieselfde dag vir ʼn fotosessie op te laai saam met die res van die Linkin Park-groep, en was daarom ook die oggend van sy selfmoord op die toneel.
Linkin Park het eers die afgelope naweek in ʼn amptelike verklaring op sy dood gereageer. Die groep het gesê die sanger se dood het skokgolwe deur sy familie- en vriendekring gestuur. Hulle het ook hul medelye teenoor sy gesin betuig.
“Jy het soveel lewens aangeraak, selfs meer as wat jy besef. In die laaste paar dae het ons gesien hoe mense wêreldwyd jou liefhet en ondersteun. Talinda [sy vrou] waardeer die ondersteuning, en wil hê jy moet weet jy was die beste man, seun en pa – die familie sal nie weer heel wees sonder jou nie. Ons elkeen se lewe is deur jou beter gemaak. Dankie vir daai geskenk; ons is lief vir jou, en mis jou.”
Bennington het ʼn geskiedenis van dwelm- en alkoholprobleme gehad. Sy dood kom op dieselfde dag as sy goeie vriend, Chris Cornell, se verjaarsdag. Cornell was die hoofsanger van die groep Soundgarden en het homself in Mei om die lewe gebring deur homself te hang. Hy sou vandag 53 jaar oud geword het.
Bennington laat ses kinders uit sy twee huwelike agter.