Die Cullinan-polisie, oos van Pretoria, het Maandag ʼn middeljarige man in hegtenis geneem nadat hy glo Sondag sy vrou geskiet het.
Konst. Connie Moganedi, polisiewoordvoerder, het gesê die voorval het Sondag omstreeks 09:00 in Refilwe, in die noorde van dié myndorpie, plaasgevind.
“Volgens ʼn buurman het hy nog gelê en slaap toe hy wakker geword het van ʼn bakleiery. Die verdagte en sy vrou het glo rusie gemaak waarna die ooggetuie skote hoor afgaan het,” het Moganedi gesê.
Die buurman het ander bure se hulp ontbied, waarna hulle die 30-jarige vrou in ʼn kritieke toestand aangetref het. Haar man het ná die skietery op die vlug geslaan. ʼn Ambulans is ontbied en die vrou is na ʼn plaaslike hospitaal geneem.
Die oorsaak van die rusie is onbekend en vorm deel van die polisie se ondersoek.
Die verdagte moet binnekort in die Cullinan-landroshof verskyn op aanklag van poging tot moord.