ʼn 16-jarige meisie van Duitsland wat onlangs van haar huis weggehardloop het om by die Islamitiese Staat (Isis) aan te sluit, is lewend onder die puin en rommel van Mossoel gevind ná ’n geveg om die stad van Isis te bevry.
Die meisie, wat intussen as Linda Wentzel geïdentifiseer is, het ʼn jaar gelede van haar huis verdwyn ná sy deur een van haar Facebook-vriende, ’n Tsjetsjniese man en lid van Isis, oorreed is om haar by hom aan te sluit en sy bruid te word.
Toe die stowwerige Linda uit die puin gehaal is, het sy ’n erg ondervoede baba by haar gehad, en hoewel sy die baba styf bly vashou het, was dit nie duidelik of dit haar baba was nie. Daar was ook sowat 20 ander vroue, almal lede van die terreurgroep, by haar. Sommige van die vroue het glo selfmoordbomme gedra en masjiengewere by hulle gehad.
Linda was reeds ’n geruime tyd ’n bekeerde Moslem en goed gebreinspoel voor sy na Irak uitgewyk het. Sy het blykbaar sielkundige skade gely toe haar ma by ʼn skoolopsigter gaan intrek en haar alleen tuis gelos het.
Sy was volgens bronne ʼn skerpskutter vir Isis, en het volgens haar eie aansprake verskeie Irakese soldate in die geveg gedood. Haar man, ook ʼn Isis-lid, het in die geveg omgekom.
Sy was ná haar gevangeneming aanvanklik hardkoppig, en het enige hulp van haar gevangenemers geweier. Sy is na Bagdad oorgeplaas, en onder Duitse diplomatieke toesig geplaas terwyl sy in aanhouding bly.
Volgens die jongste berigte, wat nie meer melding van ’n baba maak nie, is Linda nou bitter spyt oor wat sy gedoen het, en wil sy graag aan Duitsland uitgelewer word om na aan haar gesin te wees.
Haar ouers is ook intussen na Bagdad onderweg. Teoreties kan Linda die doodstraf opgelê word as sy deur Irak verhoor word. Dieselfde lot staar vier ander Duitse vroue in die gesig.
Heelwat vroue en jong meisies van Duitsland en ander Westerse lande het reeds na Isis se kalifaat uitgewyk. Baie van hulle is van Arabiese herkoms. Heelwat het na hul lande teruggekeer, ander het gesneuwel, en baie word vermis.