Nagenoeg 35 mense is Maandag dood en talle beseer in ʼn selfmoordbomaanval in die weste van Kaboel, Afghanistan.
Die selfmoordbomaanvaller het met ʼn motorbom in ʼn bus vasgery wat personeel van die ministerie van mynwese vervoer het en omstanders op die toneel is ook beseer of dood.
Ure ná die ontploffing het die ministerie van binnelandse sake in ʼn verklaring bevestig 24 burgerlikes het hul lewe verloor en 42 is beseer. Ander berigte meld egter 35 mense is reeds dood.
Volgens die ministerie van binnelandse sake is 12 mense in die bus dood. Die ander oorledenes was omstanders. Drie voertuie en 15 winkels is ook ernstig tydens die ontploffing beskadig.
Die Taliban het reeds aanspreeklikheid vir die ontploffing aanvaar.





