Quantcast
Channel: Nuus | Maroela Media
Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621

Hartroerende oomblik toe ma seun sien ná huisbrand

$
0
0

Lelani Vermaak besoek haar seun, Wynandt, in die hospitaal. Foto: Facebook

Dit was ʼn emosionele oomblik toe Lelani Vermaak Sondag by haar seun, Wynandt (14), in die hospitaal gaan kuier het nadat albei vroeër vandeesmaand erge brandwonde opgedoen het toe die gesin se huis in ʼn brand verwoes is.

Lelani word steeds in die Louis Leipoldt Mediclinic in Bellville behandel, terwyl Wynandt intussen na die Melomed- private hospitaal in Kaapstad oorgeplaas is. Dokters het egter ingestem dat Lelani Sondag by Wynandt kon gaan kuier.

“Dit was seker die mees emosionele dag van my lewe. Ons het omtrent 45 minute lank net mekaar se hande vasgehou en gehuil. Hy het net aanhou sê hoe bly hy is ek lewe en hoe bly hy is ek het daardie aand van die brand in sy kamer ingekom. Ons was albei so emosioneel en dit was so wonderlik om by my kind te wees,” het Lelani aan Maroela Media vertel.

Sy het gesê Wynandt, wat nou in ʼn algemene saal behandel word, sterk goed aan hoewel die grootste deel van sy lyf nog verbind is. Daar is verlede week veloorplantings op sy skouers en linkerblad gedoen en hy het begin met fisioterapie om so longe skoon te kry nadat hy baie rook ingeasem het.

“Hy het nog baie pyn, maar dit word beheer en hy ontvang pynmedikasie. Sy lyf jeuk ook verskriklik, maar sy gesiggie lyk pragtig. Sy gesig lyk omtrent net of hy sonbrand opgedoen het en hy behoort geen letsels in sy gesig oor te hou nie,” sê Lelani.

Lelani Vermaak besoek haar seun, Wynandt, in die hospitaal. Foto: Facebook

“Ek is so dankbaar dat Wynandt so goed herstel en dat hy so positief is. Ek het gedink ek gaan ʼn ander tipe kind sien wanneer ek daar by hom instap, maar hy is ʼn regte fighter. Hy doen so goed.”

Met Lelani gaan dit ook goed en daar is ʼn moontlikheid dat sy moontlik teen Vrydag ontslaan kan word. “Die verbande word môre van my voete afgehaal om te kyk hoe dit lyk en die dokter sal dan besluit of dit nodig is om ʼn veloorplanting daar te doen. Indien die wonde goed herstel het en dit nie nodig is om ʼn veloorplanting te doen nie, kan ek dalk al Vrydag of Saterdag huis toe gaan,” het Lelani gesê.

Lelani het brandwonde aan haar hande en voete opgedoen, terwyl Wynandt brandwonde aan 60% van sy lyf opgedoen het. Hy is twee weke lank in die waakeenheid van die Tygerberg-hospitaal behandel.

Volgens Lelani kan Wynandt die gebeure duidelik onthou en kry hy nou erge nagmerries. “Hy het aan my vertel hoe hy wakker geword het en gesien het sy kamer brand. Hy sê hy het probeer om sy kamerdeur oop te maak, maar die deur wou nie oop nie. Ek dink die dik rook in die kamer het hom baie deurmekaar gemaak en hy het dalk probeer om ʼn venster oop te kry en gedink dit was die deur. Hy het toe net in ʼn bondeltjie op die vloer gaan lê en dit is waar ek hom gekry het toe ek die kamer binnekom,” sê Lelani.

“Hy het vir my in die hospitaal gesê, ‘Mamma, ek het gedink ek gaan dood’. Hy sê net heeltyd hoe bly ek is ek het in sy kamer ingekom en dat ek hom kon red. Hy gaan nog baie sielkundige hulp nodig hê om hierdie trauma te verwerk, maar ons het gelukkig ʼn ongelooflike ondersteuningsnetwerk.”

Lelani en Wynandt Vermaak. Foto: Facebook

Lelani sê sy is self baie emosioneel oor wat gebeur het en dat sy positiewe en negatiewe gevoelens oor die voorval ervaar. “Ek is ontsteld en ongelukkig oor wat gebeur het en my kind wat so verskriklik seergekry het. Dit is ʼn magtelose gevoel, want ʼn ma wil mos na haar kind omsien as hy seerkry … en nou is my seun in ander mense se hande. Dit is ook baie moeilik om weke lank weg van Wynandt te wees terwyl hy so baie pyn het,” verduidelik sy.

“Maar ek is ook dankbaar. Dankbaar dat ons gesin se lewens gespaar is en dankbaar dat Wynandt so goed herstel. En ek is so ongelooflik dankbaar vir die mense van Boston. Die gemeenskap het my werklik verstom gelaat – ek weet nou nog nie hoe ons gaan dankie sê vir al die emosionele en finansiële ondersteuning en bystand wat hierdie mense ons bied nie. Dit is ongelooflik, ek het nie woorde om dit te beskryf nie.”

Maroela Media het vroeër berig ʼn brand het die aand van 6 Julie in Wynandt se kamer in die gesin se huis in Boston ontstaan. Lelani het geluide in die huis gehoor en gaan ondersoek instel en toe sy Wynandt se kamerdeur oopmaak, het sy gesien die hele vertrek is in vlamme gehul. Lelani het Wynandt uit die brandende kamer geruk en hom op die vloer laat rol om die vlamme op hom te blus.

Nadat sy vir Wynandt na buite geneem het, het sy teruggehardloop in die brandende huis om haar vyfjarige dogter, McKenzie, uit haar kamer te gryp. Lelani se man, Morne, het intussen probeer om die vlamme te blus, maar dit het vinnig al langs die plafon af na die res van die huis versprei en Morne moes naderhand noodgedwonge die aftog blaas. Die grootste deel van die huis is in die brand verwoes.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!