Betogers het ʼn geheime eksamen wat vanoggend deur rekeningkunde-studente van die Universiteit van Kaapstad (UK) by die Newlands krieketstadion geskryf is, vinnig onderbreek nadat hulle daarvan uitgevind het.
Die studente het e-posse gekry waarin hulle gevra is om die eksamen by die krieketstadion af te lê en die plan stil te hou, sodat betogers nie daarvan uitvind nie. Een van die studente, wat verkies om anoniem te bly, het gesê kort nadat die eksamen begin het, is dit onderbreek en die studente is gevra om die stadion te verlaat vir hul eie veiligheid.
Die eksamen is uitgestel tot verdere kennisgewing. Die klas van meer as 350 studente was veronderstel om vier eksamens te skryf ter voorbereiding van die Nasionale Raadseksamen.
Die UK is een van talle universiteite wat vandeesweek onder gewelddadige betogings deurloop. Akademiese bedrywighede by verskeie kampusse regoor die land is opgeskort weens die vloed studente-oproer wat deur die land spoel. Die studente betoog oor universiteitsfooie wat te hoog is en eis dat studente gratis by Suid-Afrikaanse universiteite moet kan studeer.