
Van links is Eric Oosthuizen, Thea du Plooy en Viv en Charlotte Viviers. Die foto is in 2008 geneem. Foto: Verskaf
Twee bejaardes van Memel in die Vrystaat is Dinsdagaand wreed in hul huis vermoor.
Sers. Tshegofatso Maliehe, woordvoerder van die polisie, het gesê ʼn bejaarde egpaar en nog ʼn bejaarde man wat by hulle gewoon het, is omstreeks 18:00 deur twee verdagtes in hul huis oorval.
Maliehe wou nie die name van die slagoffers bevestig nie, maar ʼn familievriend het aan Maroela Media bevestig dat dit ʼn bekende egpaar van die dorp, Viv (82) en Charlotte (78) Viviers, is. Die derde slagoffer, Eric Oosthuizen (82), is familie van die egpaar.
Volgens Maliehe het die aanvallers die drie mense se hande en voete vasgebind. Die huishulp het Woensdagoggend op die gru-toneel afgekom toe sy vir werk aangemeld het. Maliehe het gesê Viv is vir ure lank deur die aanvallers gemartel om die kluis se sleutels te gee.
Charlotte se liggaam is glo in die huis gevind, terwyl Oosthuizen se liggaam in ʼn buitekamer gevind is. Maliehe het gesê die twee oorledenes is vermoedelik verwurg, omdat daar geen sigbare beserings aan hul liggame was nie. “Daar word sover niks uit die huis vermis nie, maar die polisie is steeds besig om ondersoek in te stel,” het sy gesê.
Thea du Plooy, ʼn familievriend, het aan Maroela Media gesê Viv is dokter toe geneem ná die aanval, maar nie in die hospitaal opgeneem nie. “Hulle het hom met messe in sy bene gesteek en met plastiek op sy maag gebrand. Hy het ook erge kneusplekke opgedoen soos hulle hom op en af in die huis gesleep het,” het sy gesê. Viv is glo ná die aanval na sy kinders in Newcastle geneem, waar hy tans aansterk.
“Dit is so tragies. Oom Viv en tannie Charlotte is bekend en so geliefd op die dorp. Ek het daar grootgeword en ek ken hulle al sedert ek ʼn kind was,” het Du Plooy gesê. “Die ergste is hul huis is net twee huise van die skoolkoshuis af. Dit is ʼn groot skok vir die Memel-gemeenskap.”
Maliehe het gesê niemand is nog in hegtenis geneem nie. Enige persoon met inligting wat die polisie met hul ondersoek kan help, word versoek om die ondersoekbeampte, konst. Tshidiso Salemane, by 082 466 7760 te bel.