Die verpletterde ouers van ʼn tweejarige seuntjie van Vereeniging in Gauteng het hulle vandeesweek tot die publiek gewend om te pleit vir fondse vir ʼn lewensnoodsaaklike operasie vir hul seun by wie oogkanker onlangs gediagnoseer is.
Amor Schoeman, woordvoerder van die Child Medi-organisasie, het Woensdag aan Maroela Media vertel die ouers is stukkend en bekommerd oor hul seun se toekoms, veral omdat hulle nié die fondse het om vir ʼn lewensnoodsaaklike operasie te betaal nie.
Janine Gouws, klein Jaundré se ma, het aanvanklik in ʼn brief aan die organisasie gesê haar seun is drie maande gelede na ʼn oogarts geneem nadat sy ouers onraad vermoed het met sy een oog.
Hoewel die oogarts gesê het dat sy oog vanself sal herstel, het die ouers hom ʼn week gelede weer na die hospitaal geneem nadat hulle vir ʼn tweede keer onraad vermoed het.
Gouws het aan Maroela Media gesê die gesin het nooit dié nuus verwag nie.
“Dié keer was sy pupil nie net vergroot nie, maar daar was wit water en slym aan die binnekant van sy oog. Ons het hom toe na ʼn spesialis gevat en die volgende dag ʼn sonar laat doen. Ons het die mees onstellende nuus gekry – hy het oogkanker,” lui die brief.
Volgens Gouws het dr. Robert Reid, ʼn spesialis in Vereniging, aanbeveel dat Juandré se regteroog verwyder word om te keer dat die kanker na sy brein of ander dele van sy liggaam versprei.
Sy sê dié operasie is lewensnoodsaaklik, maar die gesin het nie ʼn mediese fonds nie en kan nie die geld vir die operasie bybring nie.
“Die dokter het gesê die kanker is net in die oog en het na die senuwee versprei. Dit is daarom belangrik om sy oog so vroeg as moontlik te verwyder. Hy gaan ná die operasie ʼn kunsoog kry.”
Juandré is reeds grotendeels blind in sy regteroog en sy aanpassing sal daarom volgens dokters nie te lank neem nie.
“Ons is doodbekommerd oor ons seun. Hy is ʼn jong seuntjie wat net die beste verdien, en nou moet hy sulke dinge deurgaan. Ons wil hom help om so normaal moontlik te leef. Ek weet hoe wreed die wêreld is, ek weet dat mense my kind gaan spot – maar as dit sy lewe red, is dit wat ons moet doen.”
Die aanvanklike operasie kos sowat R25 000.
Vir meer inligting oor hoe om betrokke te raak, kontak die Child Medi-organisasie by info@childmedi.org of bel Amor Schoeman by 062 266 0486. Besoek ook die Child Medi-webwerf of Facebook-blad.

