ʼn Klagte teen ʼn student aan die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroomkampus in verband met beweerde rassistiese uitsprake op Facebook, is voorlopig teruggetrek.
Die NWU het gesê die student se dissiplinêre verhoor was vir 18 Julie geskeduleer, maar die saak is Dinsdag tydelik uitgestel en die voorlopige skorsing van die student is opgehef om hom toe te laat om met klasse voort te gaan.
Die klagte hou verband met ʼn beweerde woordewisseling op Facebook tussen Hanno Bisschoff en Jeandré Goliath, albei Puk-studente, in Mei vanjaar. Die twis het op Afriforum Jeug se Facebook-blad plaasgevind onderaan ʼn plasing op die blad wat met die universiteit verband hou.
Bisschoff het in die kommentaar aan Goliath gesê as hy nie van die universiteit hou nie, hy by ʼn ander instansie moet gaan studeer wat “sy soort” mense akkommodeer. “Dis nadat ons ondankbare apies soos julle ʼn kans gegee het wat julle die mat onder ons voete uitgepluk het (sic),” het Bisschoff gesê.
Goliath het hierop geantwoord en gesê: “Ons ‘soort mense’ is nie hier op jou uitnodiging nie. En daar was in elk geval nie ʼn mat onder jul voete om meer te begin nie (sic).” Hy het verder gesê dit is Bisschoff se “inherente rassisme” wat hom noop om ander mense “apies” te noem.
Die studente se kommentaar is kort daarna verwyder, maar nie voordat daar skermskote van die gesprek gemaak is nie.
Prof. Dan Kgwadi, NWU se vise-kanselier oor studente- dissiplinêre sake, het in ʼn verklaring gesê Bischoff is tydens ʼn verhoor op 30 Mei aan twee klagtes skuldig bevind. Die eerste klagte was dat sy optrede nadelig was of nadelig kon wees vir die goeie naam, orde, dissipline of prestasie van die universiteit, en die tweede was ’n klagte dat stellings op sosiale media gemaak is wat op diskriminasie in die vorm van rassisme neerkom.
“Hy is vir twee jaar uit die universiteit geskors, maar die vonnis is vir die res van die duur van sy studies opgeskort. Hy is ook met ’n boete van R5 000 gestraf,” het Kgwadi gesê.
Hy het gesê nadat hy met ʼn senior bestuurspan die klagtes teen Goliath bespreek het, is daar besluit dat die klagtes teruggetrek moet word. “Die rede hiervoor is dat die getuienis wat aangebied is, nie duidelik die voortsetting van die saak regverdig nie,” het hy gesê.
“Ek en my span werk hard daaraan om ’n kultuur te bou wat sosiaal inklusief, samebindend en verwelkomend is, en die diversiteit van ons universiteitsgemeenskap omhels, terwyl ons historiese konteks in gedagte gehou word. Voorvalle soos hierdie is teen al hierdie beginsels en ons moet die personeel en studente van die NWU en trouens die algemene publiek om verskoning vra. Dit is duidelik dat ons meer moet doen in ons missie om studente op te voed om in Suid-Afrika te woon en te werk – in die gees van ons missie, ons waardes en ons land se grondwet.”
Ohann Fourie, AfriForum Jeug se koördineerder vir die Puk-kampus, het gesê die organisasie meen die universiteit het reg opgetree deur dissiplinêre stappe teen albei studente in te stel. “Ek kan nie kommentaar lewer oor wat daar tydens die dissiplinêre verhore besluit is nie. Ek voel wel dat alle sosialemediagebruikers verantwoordelik gehou moet word vir die uitsprake wat hulle op sosiale media platforms maak en daarom het die universiteit die regte ding gedoen deur die saak te ondersoek.”
Fourie het gesê AfriForum Jeug distansieer hom ten volle van die betrokke uitlatings en enige ander rassistiese en beledigende kommentaar op sy sosialemediaplatforms.