Ed Jardim, woordvoerder van Murray & Roberts, die konstruksiemaatskappy wat aan die brug gewerk het, het Dinsdag aan Maroela Media gesê daar is nog geen bykomende inligting oor die oorsaak van die voorval beskikbaar nie.
“Ons wil nie bespiegel oor moontlike oorsake nie. Die ondersoekproses moet sy gang gaan om te bepaal wat tot hierdie tragiese voorval gelei het. Daarom werk ons ten nouste saam met die verskeie eksterne ondersoeke,” het Jardim gesê.
Volgens Jardim word die hoofondersoek deur die departement van arbeid gedoen, hoewel Murray & Roberts ook sy eie ondersoek doen. “Dit is in hierdie stadium nie duidelik wanneer die bevindinge van die ondersoeke beskikbaar sal wees nie. Dit is nogal ʼn komplekse saak.”
Intussen het die Johannesburgse stadsraad gesê die mense wat in die voorval beseer is se vordering word noukeurig deur die stad gemonitor. “Volgens die mees onlangse verslag is nege mense tot dusver uit verskillende hospitale ontslaan. Van die tien mense wat nog in die hospitaal is, is sewe in ʼn stabiele toestand en drie is kritiek,” lui die verklaring.
Parks Tau, die Johannesburgse burgemeester, het weereens sy medelye uitgespreek teenoor die twee families van KwaZulu-Natal wat hul geliefdes in die voorval verloor het. Een van die oorledenes is Saterdag begrawe, terwyl die ander persoon oor die naweek ter ruste gelê sal word.