Quantcast
Channel: Nuus | Maroela Media
Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621

Nuuskommentaar: Het regering of studente mal geword?

$
0
0

Betogende studente by Wits. Foto: Wits/Facebook

Betogende studente by Wits. Foto: Wits/Facebook

Wits, Rhodes, Ikeys en ’n (Engels) lawaaierige faksie by Maties wat die kampusse op horings neem, saakbeskadiging, menseroof en vandalisme pleeg … Die minister van Hoër Onderwys se reaksie is dat dit “geen nasionale krisis” is nie.

Nou ja, vergeleke met die moleste en vandalisme wat gereeld by veral sekere Suid-Afrikaanse kampusse uitbreek en tot langdurige sluitings lei, is die huidige moleste seker nog ’n vulletjie, maar die verskil is dat dit nou gevestigde en selfs prestige-universiteite is wat inval, optredegewys in elk geval. Drie van die universiteite tel op verskeie internasionale indekse onder die wêreld se top-400 en is daarvolgens Suid-Afrika se top-universiteite.

Op ’n interessante manier is studentemoleste sporadies wêreldwyd deel van ’n “studente-tradisie”. Die redes vir die moleste wissel – in diktatoriale lande is dit dikwels pro-demokrasiebetogings soos in Franco se Spanje, of daarna in China. Dit gaan heel dikwels met bloedvergieting gepaard. Die Marxistiese Tupomaro’s van Uruguay het in meester- stedelike terroriste ontwikkel en waarskynlik die demokratisering van die land gerem eerder as aangehelp.

In demokratiese lande word kwessies waaroor moles gemaak word dikwels “ingevoer” soos destyds om teen apartheid in Suid-Afrika beswaar te maak. Soos die hardebaardmanne hier die geringste rede nodig het om ’n vleisie oor die kole te gooi, ’n paar (kaste) bier te knak én met ’n paar biere agter die blad ál die land se probleme op te los, so lyk dit, het sommige studente wêreldwyd min rede nodig om die een of ander moles aan te vang. Al is dit ook net om in die eetsaal van die taai kos met ’n lepel teen die plafon vas te skiet om te demonstreer presies hoe taai die kos is.

Dr. Blade Nzimande moet let daarop dat dit eksamentyd word, en dit is gewoonlik wanneer die studente by die “ander” kampusse begin agterkom wat alles skort. Die bondeldapperheid wat die huidige moleste moontlik maak, kan baie maklik na die kampusse uitbrei wat ’n sterker tradisie van moleste en droogmakery het, maar die tyd sal leer.

So tussenin moedig die rektor van die Noordwes-Universiteit, prof. Dan Kgwadi, studente wat oproerig vergader aan om aan te hou veg, iets wat daartoe gelei het dat die polisie nou ’n klag teen hom ondersoek. Sy gemelde verweer dat hy nie “daardie soort veg” bedoel het nie, word deur die konteks van die gebeure en sy beweerde opmerking dat die polisie die klag nie sal ondersoek nie, erg geërodeer.

Oor die vraag of die aangekondigde verhoogde klasgeld geregverdig was of nie, en dat die “ander kanale” wat volgens die minister gebruik moes gewees het enigsins funksioneel is, sal die tyd oordeel.

’n Dimensie van die jongste gebeure is dat dit die potensiaal het om plek-plek te versmelt met ’n ander brandpunt, naamlik die aanslag teen Afrikaans. Uit beskikbare inligting lyk dit of Open Stellenbosch saam met EFF-meelopers deelneem aan die groep wat ’n administratiewe blok by Maties beset, en die gebou sommer tot die Winnie Mandela Building “herdoop” het.

By ten minste sommige kampusse, soos die voormalige hoofsaaklik Afrikaanse universiteite (HAU’s) en Ikeys is beduidende groepe wat eerstens wil verseker dat hul studie nie vanjaar skade ly nie. Dit is moeilik om te sien hoe hierdie groep hande gevou gaan toesien dat oproerige studente, van wie sowat die helfte in elk geval selfs onder optimale omstandighede waarskynlik gaan druip, hul eie studie in gevaar stel en druk op hul studielenings verhoog. Weens hul velkleur vind baie van die studie-ingestelde sudente dit moeilik om beurse te kry.

Dat die finansieringsmodel van universiteite en studente deur die regering herbesoek kan en behoort te word, is ook so, maar die wantroue dat die huidige regering nie in die proses dalk nog erger gaan droogmaak nie, word elke dag sterker. Boonop trek die ekonomie en fiskus noustrop.

Voorts, terwyl die beleid van transformasie nog geld, sal die persepsie teenwoordig bly dat volgens die aanname gewerk word dat wit mense ryk is en dus vir hoër onderwys moet betaal, en swart mense arm, en dus gratis moet studeer. Die sosio-demografiese werklikheid is egter lank nie meer so simplisties nie.

Kortom, die tentakels om die kwessie in ’n rasding te laat ontaard, is net te sterk teenwoordig om te ignoreer.

Daar moet eenvoudig ’n beter tyd as amperse eksamentyd wees om ernstige knelpunte aan te spreek. Maar dan moet die regte kanale ook oop en werkend wees. Wits se verweer dat die verhoging bo die inflasiekoers was, onder meer weens die rand-dollarwisselkoers en so boekpryse die hoogte ingejaag het, moes nie eers ná die moleste begin het, gehoor gewees het nie.

Die owerhede het nou latte in die hande. Dit hang van die owerhede af of hulle die molesmakers gaan looi en of die latte hul eie agterstewes warm gaan klop. Tree nou eerstens in belang van diegene op wie se erns dit is om te studeer en vanjaar te slaag, en pluis dan die kwelpunte uit.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!