
Foto: Argief
ReformPUK se eise is dat weggedoen word met Afrikaans en dat die waardige Totius se standbeeld verwyder moet word, byna soos die aandrang dat Rhodes se standbeeld by Ikeys verwyder moet word. Ook Open Stellenbosch se eise sluit in dat Afrikaans as onderrigtaal volledig deur Engels vervang moet word. By Kovsies word eersdaags besluit of dié kampus eentalig Engels word.
Dit sal moeilik wees om nie opsommend woorde in Johanna van Eeden, hoofredakteur van Media 24 se Afrikaanse koerante, se rubriek vandag in haar koerante te lê nie, en dit sal onbillik wees. Die opskrif is Transformasie oor meer as net taal. Oor wat die werklike bedoeling van transformasie is, word nou al weens die aaklige, rasdiskriminerende manifesterings erg gedebatteer. Johanna beskryf dit soos volg: “Transformasie is nie getalle of teenwoordigheid nie, dit is deelname, eienaarskap en ’n gevoel van behoort.”
In haar slotparagraaf belig sy haar siening waarskynlik duideliker: “Hoe gouer ons besef dit gaan nie oor Afrikaans nie, maar oor die skep van ’n Suid-Afrikaanse gemeenskap waarin almal tuis voel – geanker in ’n gedeelde waardestelsel van nierassisme – hoe nader behoort ons aan ’n oplossing te kom.”
Die kwessie aan die bod is dat sy argumenteer dat dit nie primêr oor ’n aanslag teen Afrikaans handel nie, maar oor ’n gevoel van uitsluiting. Om aan die regering se vereistes oor kleur te voldoen, word beurse toegeken aan studente wat nie by ’n kampus se kultuur inpas nie, en daar word ook nie voldoende voorsiening gemaak vir dié feit nie. Dit veroorsaak ’n gevoel van uitsluiting, wat uitdrukking kry wanneer die “vreemdes” ’n kritiese massa bereik.
Johanna is reg oor die kritieke massa. By Kovsies is die kritieke massa in koshuise selfs in die vroeë dae nadat swart studente toegelaat is empiries bepaal. Alles was rustig totdat die empiriese massa (gestel 30 persent) bereik is en eise begin instroom het en die swart studente kultuurkoshuise gevra en uiteindelik gekry het. Met die bereiking van ’n tweede kritieke massa – toe swart studente ’n numeriese meerderheid kon kry en domineer, is weer met kultuurkoshuise weggedoen.
Kultuurkoshuise, indien die kwessie ontras kon word, kon wel in terme van die grondwet en internasionale reg oor minderheidsregte verskans word, maar dit druis teen transformasie in. Dit sou altyd veroorsaak dat transformasie pynlik doringagtige turksvye sou kraam.
Of Afrikaans werklik die “probleem” is of nie, dit manifesteer so. Max du Preez het onlangs selfs in ’n rubriek breedvoerig uitgewei oor hoekom hy meen die Afrikaner self van Afrikaans ’n groot struikelblok gemaak het.
Die minister van hoër onderwys, dr. Blade Nzimande, begin ook al meer wegskram van Afrikaans as probleem. Bontpratery deur die minister veroorsaak egter dat ontleders traag is om waarde aan bepaalde uitlatings te heg. Volgens ’n berig in vanoggend se Volksblad het Nzimande pas die volgende gesê: “Niemand baklei teen Afrikaans of die Afrikaanse kultuur nie. Wat die taal en kultuur egter moet weet, is dat die twee (Afrikaans en Engels) moet bestaan in ’n multi-kulturele en veeltalige samelewing. Dit is die werklikheid van Suid-Afrika.”
Of ReformPUK en Open Stellenbosch egter gaan inval by die minister se woorde moet nog gesien word, tensy hulle reken hulle val onder die minister se kategorie van “niemand”. Want hulle maak dit duidelik dat hulle ’n aanslag teen Afrikaans van stapel stuur.
Jan Bosman, hoofsekretaris van die Afrikanerbond, reageer vandag op Netwerk24 op Max se rubriek en sê dat Afrikaners en Afrikaanssprekendes nie die taal se grootste vyand is nie, maar wel stilswye.
Dit is reg dat die groter konteks bepaal word waarin die manifesterings plaasvind. Of veel vermag kan word deur die groter konteks aan te raak waar persepsies al dikwels feit geword het, is ’n ope vraag. Daarom is dit nodig dat die taalankers gewerp word waar ’n aanslag onder die vaandel van transformasie duidelik téén Afrikaans gemik word. Die ankers uitgooi beteken egter nie dat diplomasie nie ingespan moet word nie.
En laeprofiel-diplomasie soos die latere jare van die vorige bedeling gekenmerk het, sodat gesê is Suid-Afrikaanse diplomate hardloop regop onder ’n mat deur sonder dat hul hare deurmekaar gekrap word, is ook nie aangewese nie. So gaan Afrikaans (en by implikasie die grondwet) net ’n vyand bly.