
Argieffoto
ʼn 20-jarige vrou is Donderdag in Pietermaritzburg, KwaZulu-Natal, deur die Valke in hegtenis geneem nadat sy haar babaseuntjie glo op die advertensiewebwerf Gumtree wou verkoop.
“Die vrou het ʼn advertensie geplaas waarin sy haar 19 maande oue babatjie vir R5 000 te koop aangebied het,” het brig. Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die Valke, Vrydag aan Maroela Media gesê.
“ʼn Persoon het die advertensie gesien en die polisie daarvan in kennis gestel. Die Valke het ʼn lokval vir haar gestel. ʼn Ontmoeting is gereël, die geld is aan haar oorhandig en sy het die baba aan die lede oorhandig waarna sy dadelik in hegtenis geneem is.”
Die R5 000 is verhaal en die baba is in die sorg van maatskaplike werkers geplaas.
Mulaudzi het gesê daar was aanvanklik verwarring oor of sy die biologiese ma van die kind is, maar intussen is vasgestel dat dit wel die geval is.
Die vrou sal na verwagting Vrydag in die Pietermaritzburg-landdroshof verskyn op aanklag van mensehandel. Die Valke gaan haar aansoek om borgtog teenstaan.
Volgens Mulaudzi kan meer aanklagte teen die vrou aanhangig gemaak word terwyl die ondersoek ontvou.