
‘n Skermskoot uit die video.
Hofmeyr het Vrydagaand onder luide toejuiging Die Stem gesing as deel van ʼn keurspel. Die NWU het in ʼn verklaring gesê hoewel hulle kunstenaarsvryheid en vryheid van uitdrukking in die algemeen erken, die universiteit nie met die gebruik van “kulturele artefakte en simbole van ons pynlike verlede” geassosieer wil word nie.
“Hierdie gebruik is verdelend en veroorsaak sielkundige skade. Dit stem nie met ons opvoedkundige doelwitte ooreen nie,” het Louis Jacobs, woordvoerder van die universiteit, gesê.
Volgens Jacobs het die organiseerders van Aardklop die NWU verseker dat hulle ook die sing van die Die Stem verwerp, buiten as deel van ons huidige volkslied. “Hulle ondersteun ook nie die gebruik daarvan as ’n sogenaamde ‘weerstandslied’ (soos Hofmeyr dit noem) nie en betreur die gebruik daarvan vir ’n politieke agenda.”
Hofmeyr het intussen gesê hy aanvaar die NWU se opinie soos hy alle teenstrydige opinies hul ruimte gun. “Ek sing Die Stem allermins om die nasionale volkslied te vervang, maar ek sing dit in verset teen die dinge wat my aanstoot gee onder die vaandel van die nuwe vlag en die nuwe volkslied. As jy Die Stem verwerp as versetlied, omhels jy by implikasie jou nuwe volksliedere, soos Kil The Boer en Mshimi Wami.
“Dan akkordeer daar ʼn hele rits ander nuwighede met jou, waarmee ‘honderde’ van ons aanstoot neem, soos die oormaat aan nuwe apartheidswette, die nuwe rasbeleid soos swart ekonomiese bemagtiging, regstellende aksie, kwotas, verteenwoordiging en rassevoorkeurbehandeling, die nuwe SABC, die nuwe SANDF, die nuwe SAA ens., die nuwe maatskaplike verval, die nuwe verskynsel van lyke in hospitaalgange, nuwe indeksnederlae, nuwe dienslewering, nuwe marxistiese uitkomste, nuwe anti-Westerse prestasies, nuwe kleuterverkragtingsyfers, nuwe bejaardeverkragsyfers, nuwe ekonomiese vooruitsigte, die nuwe werkloosheidskoers, die president se geletterdheid, nuwe rasgebaseerde toelatingsvereistes, nuwe moedertaalonderrig, nuwe opvoedingskoers, nuwe akademiese standaarde, nuwe armoede, die nuwe plaasmoordsyfers, die nuwe nasionale moordsyfers en die nuwe nasionale verkragtingsyfers.”
Hofmeyr het gesê as kunstenaar verlang hy na die ruimte om sosiale kommentaar in sy kuns te mag lewer en as Suid Afrikaanse burger die reg om nostalgies te raak oor ‘n beter toekoms vir my kinders. “Dit gaan my verstand te bowe dat die NWU-perseel en geboue, die wetenskap en wiskunde fakulteite, die Engelse taal, kunstefeeste, die N1, die Jakarandas in Pretoria, die brûe oor die Vaalrivier en die Uniegebou nie as ‘kulturele artefakte en simbole van ons pynlike verlede’ gesien word nie. Ek verwerp die gebruik van ʼn gewyde lied soos Nkosi Sikelel’ iAfrika vir die politieke agenda van ANC-toesmeerdery. God seën Afrika. Voor dit te laat is.”