
Cecil die leeu Foto: Zimparks, Facebook
Die internasionale dierebeskermingsorganisasie, Four Paws, het sy teleurstelling uitgespreek dat die Zimbabwiese regering nie die tandarts, wat die bekende Cecil die leeu gejag het, gaan vervolg nie.
Die Zimbabwiese regering het Maandag aangekondig dat die Amerikaner, dr. Walter Palmer, nie vervolg sal word nie.
Oppah Muchinguri-Kashiri, minister van omgewingsake, het gesê Palmer se jagpermitte was in orde en daarom hoef hy nie enige vervolging te vrees nie.
ʼn Professionele jagter van Zimbabwe sal na verwagting Donderdag in die hof hoor of aanklagte teen hom ook teruggetrek sal word. Hy ontken ook skuld, het Four Paws bygevoeg.
“Zimbabwe het kort nadat Cecil doodgemaak is, ʼn verbod op leeujag aangekondig,” het Thomas Pietsch van Four Paws gesê. “Nou is dit nie duidelik of enigiemand aanspreeklik gehou gaan word vir die wrede jag nie. Leeu-trofeejag word altyd verbind met dieremishandelign, of dit nou wettig of onwettig plaasvind.”
Pietsch het gesê Cecil het die fokus op trofeejag geplaas. Die leeu is met ʼn pyl en boog gesket en het 40 ure lank gely voor hy uiteindelik gedood is. Sy noodlot het wêreldwyd opslae gemaak, maar hy is nie die enigste slagoffer van dié sport nie. Volgens Pietsch word minstens drie leeus daagliks in Suid-Afrika gejag deur hoofsaaklik onprofessionele jagters van oorsee. “Leeus het geen kans om te ontsnap wanneer hulle só gejag word nie.”
Fiona Miles van Four Paws het bygevoeg Cecil is die ambassadeur van al die leeus wat wettig in Afrika doodgemaak word. “Suid-Afrika is die ergste vir dié groot katte. Ongeveer 6 000 leeus wat in aanhouding is, wag as’t ware om deur trofeejagters tereggestel te word.” Sy het gesê haar organisasie poog al jare lank om ʼn verbod te plaas op soortgelyke jagplase. Die dierebeskermingsorganisasie spits hom daarop toe om die situasie vir dié groot katte wêreldwyd te verbeter.
Lees alle vorige berigte oor Cecil die leeu op Maroela Media.