
Shimon Theron kort nadat hy Sondagaand in Pretoria geskiet is. Foto: Verskaf
Shimon Theron, ʼn 19-jarige lid van die Pretoria-Wes-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), sterk in die hospitaal aan nadat vlugtende rowers Sondagaand agt keer op hom geskiet het.
Kosie Oberholzer, ook ʼn 19-jarige lid van die GPF, het in die spervuur gespring en hom na veiligheid probeer sleep nadat Theron in sy regterenkel geskiet is.
Theron, ʼn inwoner van Proklamasieheuwel en ’n gr. 11-leerling aan Hoërskool Hendrik Verwoerd, het Dinsdag in die Kalafong-hospitaal aan Maroela Media gesê hy was deel van ʼn groep GPF-lede wat Sondagaand by ʼn park in Danville byeengekom het.

Shimon Theron se voet word behandel.
“Ons was besig met ʼn inligtingsessie toe twee voetgangers ons omstreeks 19:30 ingelig het dat die Kwik Spar beroof word,” het Theron gesê.
Die meeste van die lede het almal in motors gespring en na die winkel, wat sowat ʼn blok van die park geleë is, gejaag.
Kapt. Bonginkosi Msimango, polisiewoordvoerder, het Dinsdag aan Maroela Media gesê ses gewapende mans het op die winkel toegeslaan en skote afgevuur waarna hulle met minstens R2 500 se kontant in ʼn wit KIA Sorento van die toneel gevlug het. “Twee GPF-lede is tydens die voorval gewond. Albei is in ’n stabiele toestand na onderskeidelik die Bougainville- en Kalafong-hospitaal geneem.” Na wat verneem word is die persoon wat na die Bougainville-hospitaal geneem is, reeds ontslaan.
Theron het gesê hy en sowat drie ander lede het te voet na die winkel gehardloop en was naby die toneel toe hy ewe skielik geweerskote hoor.

Shimon Theron en sy niggie Teighler Weilbach.
“Ek het dadelik skuiling gesoek en agter ʼn motor weggekruip. Ek vermoed die rowers het my patrollieradio gehoor raas toe hulle op vlug geslaan het en een van hulle het op my geskiet voordat hulle weggejaag het. Ek is bokant my enkel getref en my voet het gehang. Kosie het tussen die skote uit sy pa se kar gespring en na my gehardloop en probeer om my na veiligheid te sleep.”
Verskeie GPF-lede het Theron en die ander beseerde lid ná die voorval bygestaan. Hulle het daarna die pad na die Kalafong-hospitaal vir verkeer afgesper terwyl ʼn ambulans van Best Care hom daarheen gehaas het.
Theron het een operasie agter die rug en ten minste twee lê nog voor voordat hy ontslaan kan word. Hoewel “dit nie baie lekker in die hospitaal is nie” en daar “nie veel is om te doen nie” nie, is hy in ʼn goeie luim. Hy word onder andere deur sy ma, Zelia Theron, familie, vriende en GPF-kollegas bygestaan.
Theron het twee maande gelede by die GPF aangesluit. Hy het gesê hy glo nie hy sal weer patrolleerwerk wil doen nie, maar sal beslis in die beheerkamer uithelp. Hy was vol lof vir Oberholzer wat sy lewe gewaag het om hom te red en het hom vir sy braafheid bedank.
Msimango het gesê die Pretoria-Wes-polisie ondersoek twee sake van poging tot moord en ʼn sakeroof. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.