Burger het intussen bloedklonte in haar long en heup ontwikkel omdat sy so lank gelê het en moes na die hospitaal se waakeenheid geskuif word.
Johan de Bruyn, Burger se pa, het Dinsdag aan Maroela Media gesê sy dogter is Maandag uit die waakeenheid weer terug na ʼn algemene saal oorgeplaas. “Die dokter het gesê hulle wag nou op mediese apparaat om van die Universitas Akademiese hospitaal te kom voordat hulle met die operasie kan voortgaan. Die apparaat is byna soos ʼn klein siffie wat in die aar geplaas word om die bloedklont te vang as dit sou loskom. Daarsonder is dit te gevaarlik om op haar te opereer,” het hy gesê.
Maroela Media het vroeër berig dat Burger haar femurkop gebreek het met ʼn slegte landing tydens ʼn valskermsprong. Sy is in die Pelonomi-hospitaal opgeneem ná die ongeluk, waar dokters gesê het dat sy opereer moet word. Nietemin wag sy sedertdien vir haar beurt op die operasietafel. De Bruyn het vroeër gesê verpleegpersoneel ignoreer sy dogter se versoeke vir pynmedikasie en haar familie moes self haar skraapwonde skoonmaak en ontsmet.
De Bruyn het Dinsdag gesê die hospitaal se verduideliking waarom Burger steeds nie geopereer is nie, is dat haar mediese toestand nie ʼn noodgeval is nie. Hy het egter gesê sedert die familie die saak met die hospitaalbestuur opgeneem het, ontvang Burger nou pynmedikasie.
Volgens De Bruyn het hulle in dié stadium geen idee wanneer Burger geopereer sal word nie. “Ek wil haar nou net gesond kry sodat sy kan huis toe gaan. Dit is al wat nou vir my saak maak,” het hy gesê.
Maroela Media wag op kommentaar van die Vrystaatse departement van gesondheid.