Kol. Jay Naicker, woordvoerder van die polisie, het gesê die grootse dwelmvonds is by ʼn woonstel in Smithstraat gemaak. ʼn 34-jarige man is in hegtenis geneem vir die besit van meer as ʼn kilogram hidroponiese dagga, 119 gram methacathinone (cat) en 18 gram metamfetamien, algemeen bekend as “crystal meth”.
“Die geraamde waarde van die dwelms is ongeveer R120 000,” het Naicker gesê. Die man sal die naweek in die selle by die Punt-polisiestasie aangehou word en Maandag in die Durban-landdroshof verskyn.
Nog ʼn verdagte is in Isipingo in hegtenis geneem vir die besit van 34 strooitjies heroïen. Die heroïen is ongeveer R1190 werd, het Naicker gesê. “Polisie het ook beslag gelê op kontant wat in sy besit was en vermoedelik deur dwelmhandel bekom is.”

